Bokomo-brekfisbrief; 12/01/2010: As 'n ronde tafel kon praat ...

  • 0

Sou hy vertel van 28 jaar en tien huise. Van gesinsaandetes, waar elkeen sit waar hy wil en opgewonde vertel van hulle dag. Die tafel sal vertel dat dit om hom is waar die slegte gewoonte begin het. Die neiging van almal om gelyk te praat. Die demokratiese wyse waarop besluite geneem is. Elkeen het een stem, maar Pa het 4.

Van ongeveer 40 kinderpartytjies vir vier dogters. Swempartytjies, disco partytjies en sleepovers wat vrolik begin maar toe hulle tieners word, gewoonlik geëindig het wanneer ten minste twee meisies in die kamer sit en huil. Van die familievergaderings wat soms in trane geëindig het, want klokslag is daar vir meer sakgeld gevra en die pa se standaardantwoord was; "Stel 'n begroting op van jou behoeftes en ons sal daarna kyk." Of 'n versoek is geweier omdat die ma nie 24 uur kennis gekry het nie. Van die gebede saam oor besluite wat die familie raak.

Van 4 dogtertjies wat huiswerk doen, prentjies uitknip en take aanmekaar plak.

Van teepartye, ontbyte, Bybelstudies en 'n vrou wat haar stukkende hart uitpraat oor 'n koppie tee.

Hy sal vertel van die vreugdevolle suksesse en prestasies, belangrike aankondigings, maar ook van die dag wat een dogter 12 ure aanmekaar gehuil het, toe sy nie gekies is as prefek nie.

Van die pleegdogter wat eers begin wegbly het van die tafel, anorexia gekry het, die kos letterlik in die ma se gesig gegooi het en haar wegloopplanne. Van die ma van die huis wat 'n vrou en die skorriemorrie aan haar sy, uit haar huis jaag omdat sy haar dogter van graad tien, wat sy op 3 jaar weggegooi het, nou wou kom haal sodat sy kan gaan trou.

Van vriende uit lande soos Aruba, Ierland, Holland, Belarus, Kanada, Sjina, Ghana, Madagaskar, Kenia, Ethiopië, Meksiko en ander, wat saam om die tafel kuier.

Hy sal vertel van Vasili, die Russiese tiener wat niks anders wou eet as 'n 'gumbogger' nie. Van die chauvinistiese Ghanees wat die ma van die huis rond'order', tot sy deur geperste lippe vir haar wyse man sê dat sy nou gaan sit en hy sy vriend verder kan bedien. Van die Malagassies wat so min eet en die Texan van Gun Barrel City wat so vreet.

Hy sal vertel van die Kersfeeste en Valentine's etes, waar vriende feesvier en vir God dankie sê vir geluk en vriendskap.

Hy is 'n Oregon Pine-tafel met 'n dik, heksagonale stuk glas wat in die middel inpas. Swaar soliede hout.

Hy gaan nou 'n nuwe geskiedenis begin in 'n ander gesin se eetkamer.

En ek weet niks sal weer dieselfde wees nie ...

Vega

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top