Bokomo-brekfisbrief; 12/01/09: Aanbevelings vir Gerda (en sommer Ben ook)

  • 0

 

 

Soos verskeie ander bydraes wat onlangs hier geplaas is, het julle briewe my mond effe laat oophang.

Nietemin, Gerda, jy vra vir aanbevelings, so hier is vir jou 'n paar praktiese wenke:

1. Die Salvation Army is altyd 'n goeie plek om van klere ontslae te raak.

2. Jy is skynbaar baie gesteld daarop om tyd te bespaar en vind dat jy vinniger werk sonder klere aan. Dit het te doen met windweerstand en ek doen aan die hand dat jy jouself sommer ook van kop tot tone met varkvet insmeer. (Jy't seker al gehoor van die uitdrukking: "Soos 'n vetgesmeerde blits"?)

3. Wat tuinmaak aanbetref: gee vir Alfeus die dag af en kyk mooi uit vir die meter-leser.

4. Moet nooit, maar nooit jou rug draai op 'n kaktusplant nie.

5. Dra altyd "gumboots" as jy met kraalmis werk en moenie probeer dink hoe jy op daardie oomblik vir ander mense sou lyk nie. (Dieselfde geld vir die leerstewels, oor-skerms en veiligheidsbril wat jy altyd moet dra terwyl jy die grassnyer gebruik.)

6. Sit die honde in die garage voor jy uitgaan. Die blikskottels gaan altyd net vir één plek en hulle neuse kan ongelooflik koud wees – selfs in die hartjie van die somer.

7. Moenie ingedagte raak en sommer net soos jy is in die kar spring om winkel toe te gaan nie. Dit gaan vir jou 'n helse verleentheid wees as jy by die kasregister kom en skielik besef jy het jou handsak vergeet.

8. Dra nog steeds handskoene as jy Meksikaanse rissies moet opkerf. (Ek het eendag 'n kaalhand-kerfsessie onderbreek om badkamer toe te gaan en ek kruis nou nog my bene as ek aan die nagevolge dink.)

9. Die feit dat jy nie jou buurman kan sien nie, beteken nie noodwendig hy kan jou nie sien nie. Maak dus seker jou tuin is so beskut as wat jy dink. (Ek besit 'n teleskoop en ek weet waarvan ek praat.)

10. Verder tot 9. hierbo: raak agterdogtig as hy drie maande neem om sy dak te verf.

11. As jy vind dat jy mettertyd begin sukkel om die vonk in jou huwelik te behou, kan jy by geleentheid kerse aansteek en stadig voor jou man aantrek. (Oor wat volgende moet gebeur, is ek egter nou nie so seker nie ...)

Anyway, ek hoop ek het jou gehelp.

Oom Daan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top