Ek hou meer daarvan om met FB te praat al is jy en Francois een en dieselle.
Klein dorpies is dikwels 'n nagmerrie vir baie. As iemand van buite kom is hy dikwels 'n "inkommer" wat vinnig wil kom geld maak of kom verloor. Klein kusdorpies is nie altyd so idillies soos mense dit maak nie. Deur die jaar spook dit vir baie mense om dinge bymekaar te hou of die wolf weg van die deur te hou. Want Piet sit dikwels in die kaggel en dan hoop en bid mense vir Desember wanneer die manne met die groot geld kom om te spandeer. En na 'n week dan begin die locals te kla, want die tou by die bank staan by die deur uit, die verkeer is 'n nagmerrie en die plek by jou gunsteling-kuierplek is vol jong meisies wat hul groente alles opgeëet het en ruik na sonbrandolie. Jy sal my egter nooit as te nimmer hoor kla hieroor nie ...
Ek wonder soms oor die stad/platteland-ding. Al sal ek nooit as te nimmer ooit weer 'n horlosie dra nie (mens kan mos tyd skat volgens die son, of hoe?) moet ek ook maar meeste van die tyd jaag, en vloek as 'n "binnelander" teen 40 km/h voor my aankruie om na die branders of die groot walvis te kyk en nie net effens pad wil maak nie. Maar mens verdra dit want hulle bring darem bietjie opwinding en verandering en geld en, mmm, mooi lywe oppie strand.
Dis egter die omgee vir mekaar wat ek hier meer en beter ervaar as in die groot stad. Mense het (of dit lyk so) meer tyd vir mekaar. Is dikwels meer besorg oor mekaar. Mense groet mekaar. Dikwels is dit net 'n vingerlig van die stuurwiel af so in die ry of soms 'n armwuif by die ruit uit. So raak dit later 'n gewoonte om te kyk vir bekendes. Soos annerdag op die sementpad (dis hoe ek dit nog onthou) deur Joey's. Mens kyk rond vir 'n bekende gesig maar kyk jy vir iemand gooi hy vir jou 'n zap asof jy by sy vrou gekuier het. En so kyk-kyk ry jy verby jou afrit en is jy hopeloos verdwaal. Eindig jy op iewers waar mammie jou skeef aankyk omdat jy nie daai GPS wou koop nie "want ek ken mos die pad".
Ek kry daagliks met iemand te doen wat iets soek. Van 'n spaarwiel vir sy bakkie omdat hy die brug oor my rivier verkeerd geskat het tot iemand wat 'n verwer of betroubare werktuigkundige of wat ook al soek. En synde die plek groterig klein is weet mens mos maar van mekaar al drink jy nie noodwendig saam 'n dop nie. So jy kan aanbeveel indien nodig en gat loop skop as die aanbevole aangejaag het.
Die enigste werklike nadeel (as mens dit so kan stel) is dat die geld nie dieselfde is nie. Mense in klein plekkies hou baie meer vas aan hulle geld en draai die sente om en om en weer om. As ek wil kwoteer vir iets moet ek bereid wees om die bodem te skraap. In die stad kan ek my prys verdriedubbel en dan sal mense dink ek is mal omdat ek so goedkoop is. Moes annerdag 'n (dubbel)grafkelder uitbou vir iemand vir onder 8K. In Kaapstad sal jy nie eens met dubbel daai bedrag reggekom het vir 'n enkel grafkelder nie. Dit sluit in die grawe van die graf, uitbou, voorbereiding, en na die tyd die toemessel, toegooi en verfraaiing.
Tog, niks kom by die gerusstelling dat jy relatief veiliger is nie, dat ek geen diefwering of alarms of gewapende weermagte nodig het nie. Dat my klogoete relatief veilig die veld in kan stap sonder om gehinder te word. Dat ons omsien vir mekaar en mekaar ken en verstaan. Tog, mens kom agter dat selfs dit besig is om stadig te verander. Die wantroue wat die politici en die kwasifilosowe en napraters saai versprei stadig maar seker soos 'n kankergewas. Mense het nie meer daardie blinde vertroue in mekaar soos wat ek vroeër jare beleef het nie. 'n Bladskud en jou woord wat jou eer is, is lankal nie meer genoeg nie. En dit is hartseer, is dit nie? Ons verloor nie net 'n deel van jou menswees nie maar jy moet jou stadig maar seker begin skik volgens die politici en hul siek napraters. Mense (oor die rasgrens heen) lag nie meer vir mekaar omdat hulle snaaks is nie, mense probeer om vrinne te raak oor grense heen om raakgesien te word of op hul Facebook-profiel te spog. Mense raak al meer nagemaakte klone van iets waarvan ek nie regtig hou nie, want ek haat dit as iemand nie die guts het om my in my oë te kyk as ek met hom praat nie of my groet met 'n pap handdruk.
Groete uit Oesterland
oester


