Bokomo-brekfisbrief; 11/11/09: Suid-Afrika

  • 0

Ek loop nou nou so deur die Tremloods, beursie styf vasgeknyp in die een hand en selfoon in die ander hand, bang dat iemand dit dalk net wil gryp.

Sien, ek wil gou PEP-boetiek gaan besoek, op soek na rokkies, die klein marram wil nou net rokkies dra en by die kleuterskool verniel die goed so, ek dog toe PEP is net die antwoord. Dis dus nie aldag wat ek rondloop in die middestad met my beursie in hand nie, dit laat mens nogal soos ‘n teiken voel.

Toe ek weer buite is, voor die Tremloods, met die duisende straatstalletjies voor my, blêr daar êrens ‘n stereo met sulke lekker seventies musiek op, die son skyn en die mense beweeg. Kyk, dis donker om my, ek is die enigste bleek gesiggie daar rond, maar toe ek so kyk na die mense, luister na die musiek op straat en die son op my gesig voel, besef ek hierdie mense, net soos ek, wil net lewe. Hulle wil ook net ietsie koop vir die huis, boude swaai op die musiek, lewe.

Maar hoe bring ek dit nou in perspektief met wat in die land gebeur? Terwyl ek ‘n gevoel van kameraderie vir hierdie onbekende massas om my voel, voel ek ook die woede in my hart oor al die verkeerde dinge. As ek na hierdie spulletjie kyk, nou rustig, hoe verklaar mens dan die massa-aksies, breek van winkelvensters, "looting", massa-histerie en plunder? Hoekom is ons volkies so uiteenlopend?

Ek dink ons behoefte om te behoort en net te wil lewe in vrede, word anders uitgebeeld. Ons meer in stille protes, hulle meer in optogte, gewelddadig soms, meer "vocal" as ons.

Ek wonder, terwyl ek my beursie stywer vasknyp, of daar ‘n einde gaan wees aan hierdie gemors. Gaan die verskillende rasse mekaar eendag, as ek oud en grys is, eers verduur? Of gaan ons maar altyd voortgaan om mekaar niks te gun nie, mekaar net oppervlakkig verdra en om altyd die sleg eers raak te sien?

Ek wil hê my klein marram moet eendag, as sy groot is, nie hierdie dinge deurmaak nie. Daar is genoeg ander probleme, sonder nog om rasse-onverdraagsaamheid, onstabiliteit, ESKOM, Malema, beurtkrag, plaas-onteienings, stakings, lootings en sulke goed ook te moet aanskou.

Wie weet, dalk as sy groot is, is hierdie ‘n ander land, nuut opgebou, mense is almal verdraagsaam, taxi's ry mooi soet, mense is almal gelukkig met hul lone, niemand staak nie, ESKOM het altyd krag, en Malema is die nuwe president?

Nou ja, dis dan seker nou tyd op wakker te word uit droomland ...

Altruïs

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top