Bokomo-brekfisbrief; 11/10/09: Verlore vriendin

  • 0

Liewe Anna,

Ek het verlede week ‘n geleentheid gekry om hierdie kopspelde raak te loop wat ek in ‘n ander leeftyd aan jou beloof het. Ek stuur dit aan jou met liefde en verlange na ‘n vriendskap, voor dit vertroebel geraak deur menslike sondes van selfsug en eiebelang. Miskien sal jy dan tog soms aan my dink wanneer jy dit gebruik ...

Die stoellappe wat ek hiermee saamstuur is maar net om terug te gee. Ek kan daarmee niks meer doen nie. Het baie lankal nie meer sleutels tot jou woonstel nie. Die sleutels is in elk geval verander van dit wat ek gehad het. Ek wonder soms oor die verwyte wat jy in jou binneste met jou saamgedra het - en dan kan ek nie help om te wonder oor so baie dinge wat nie gesê is nie ... die tye wat ons saamgewerk het in jou woonstel. Die verf wat oor my nuwe kwilt en my nuwe lakens geval het en waarvan ek geen wrok ooit gekoester het nie maar wat in my gedagtes verskyn het, iewers langs die pad na die brief wat al die kronkels verduidelik het. ‘n Tasbare iets wat nie vervang is nie, soos die messegoedstel van jou wat ek "vernietig" het. Vir my was dit alles deel van ‘n vriendskap tussen twee mense wat mekaar se sielevreugde en tragedies verstaan het.

Vriendinne.

In my domheid het ek aanvanklik nie woorde gehad en die dae en weke het maande geword het, en elke dag met selfverwyt rondgeloop. Hoe kon ek so blind gewees het, so vasgevang in my eie gedagtes en my eie belange dat ek nie die skade wat ek aan ons vriendskap veroorsaak het, raakgesien het nie. Maar soos die tyd verloop het, het ek ook woorde aan gestaltes en gebare gekry en my gedagtes wat maar altyddeur so sukkel met die negatiewe, kon onthou van lekker tye en nog lekkerder gesindhede.

Amper ‘n jaar later worstel ek nog steeds met die verstaan van al die gebeure. Ek skat egter daar is te veel gesê en ook te min gesê. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Net die seer en eensame verlange sal bly wanneer daar dae kom wat ek myself sal toelaat om te onthou. Soos vandag.

Jy verjaar binnekort - mag jy in vrede en vreugde lewe vir al die dae en jare wat vir jou oor is.

Lalla

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top