Bokomo-brekfisbrief; 11/09/09: Melt Myburgh se juweeltjies

  • 0

 

 

Hiermee groet die SêNetters jou - met jou eie tong in die kies woorde!

Oor SêNet-briewe:

So gou ek die tegniese aspekte onder die knie kry, sorg ek dat die eerste uitgawe soggens om 05:30 sak.

Die aantal briewe is vandag so bietjie minder as gewoonlik, want my proefbeampte het haarself vanoggend per ongeluk in die badkamer vasgeboei aan ʼn waterpyp terwyl sy haar ablusies gepleeg het.

Daar is briewe in hierdie uitgawe wat jou sal laat voel of jy ʼn ou patriarg is wat hom oorgee aan die genot van die enigste sopbeen in die pot.

Ai, as die SêNetters maar net so sorgeloos soos dié laaitie met mekaar kon omgaan, sou die wêreld seker ʼn meer verdraagsame plek gewees het. Maar dan het daar elke dag seker net drie briewe op die Sê verskyn.

Vanoggend prut die opinies op SêNet soos ʼn drukkoker op ʼn warm stoofplaat.
Leesstof wat jou nekhare sal laat krul van pure lekkerkry!

Soos ek in die verlede al genoem het, is die versorging van SêNet-briewe nie iets waarop ek my kan roem nie, omdat ek letterlik tyd kry om elke brief net een keer deur te gaan. Foute wat in die proses nie opgetel word nie, bly agter. Beslis nie die ideale situasie nie, maar op hierdie stadium die beste wat ek kan doen.

Daarom bedank ek almal wat obsessief is oor taalversorging vir hul geduld met my en my proefleser-assistent in hierdie verband.

As jy nou regtigwaar nie jou selfdissipline kan handhaaf nie en jy móét hul briewe oopmaak, maak tog asseblief seker dat jy ten minste drie gram kokaïne of ʼn spuit vol morfiene agter die blad het.

In hierdie uitgawe is daar iets vir elkeen; veral vir diegene wat sterk voel oor vlagswaaiers se gedrag by rugbywedstryde, en hulle wat visioene het oor sonsondergange in Orania.

Oor die stelselprobleme wat ons sedert gister ervaar, gaan ek liewer niks sê nie, want my fatsoenlikheid mag my net-net in die steek laat. Boonop is dit al ʼn afgesaagde ou deuntjie. Wat ek wel gaan sê, is dat ek aanbied om elke SêNetter wat rukkings gekry het as gevolg van onttrekkingsimptome, se voete ter boetedoening te was.

O, en kan julle nie skryf nie! Vandag is julle behoorlik op jul stukke. As ek Oprah was, het ek hierdie dag gekies om motors uit te deel aan almal in die ateljee. (Met my geluk sou dit seker speelgoedkarretjies gewees het).

Geniet die langnaweek. As jy wonde het, lek versigtig; as jy ʼn sambok in die een hand vashou, vryf tussen elke hou growwesout in met die ander.

Hou die kersblaker byderhand en die koos onder die kooi! Groete en groepsdruk!

Oor die godsdiens:

Gaan kyk gerus of jy ʼn slang in die gras gewaar.

Ja-nee, die Christene kan ook nie vir ʼn enkele oomblik onder mens se oë uitgelaat word nie, of hulle is op allerlei maniere doenig met mekaar.

Ek vertrou dat deelnemers verantwoordelik oor hierdie onderwerp sal gesels en nie, soos in die verlede, mekaar probeer doodskreeu met beledigings en roomkoeke van verdoemenis nie.

Gaan kyk hoe die christene en ateïste weer in mekaar se onderbroeke verstrengel raak onderaan die uitgawe, en hoor hoe smeek al die voorstanders van spraakvryheid dat hul opponente se stemme gestil moet word.

Van ʼn wenende Webvoet ...

Oor die gay-debat:

Vir dié wat nie weet hoekom 8 Mei so uitstekend kwalifiseer vir "Moffiedag" nie, spreek dié datum hardop uit met ʼn florale steminfleksie terwyl jy jou linkerpols flambojant knak.

So ver gaan dit heel goed, maar met SêNetters weet mens nooit. Miskien oortuig die een faksie die ander tog hierdie keer sonder om 'n sambreel van sy pienk frille te bevry?

Niks in- of bygevoeg nie; net gesny! - (Melt Myburgh)

Ja, ons dagdroom almal maar ...

Oor die intelligentsia en die plebs:

Ek hoop onse intelligentsia kan darem die humor in hierdie reëling insien. Die SêNet-gepeupel kan mos wragtig nie sommer so kapituleer nie; oor my dooie liggaam!

Joan Hambidge kap terug na Charl-Pierre Naude se skrywe van vanoggend (dié twee, lyk dit my, is nou reeds geruime tyd lus vir mekaar), terwyl Herman Lategan weer ʼn skuins blaf gee en LitNet in die ondenkbaarste taal beledig (Sies, Herman!).
Asof dit nie genoeg is nie, hap Tessa Louw in ʼn brief na die teater-kritikus en skrywer, Danie Botha, oor ʼn repliek van hom wat in Die Burger verskyn het.

Sogenaamde "hoë kultuur" en "lae kultuur" is nie bedmaats nie. Dat die afgrond tussen die kasteel met die ivoortorings en die landerye waar die gepeupel ploeg en skoffel oorbrug MOET word, is ʼn feit soos ʼn bees wat malkoeisiekte onder lede het. Dis een van die grootste uitdagings van ons tyd wat deur die internet op die spits gedryf word.

Hoe word digkuns meer toeganklik gemaak sonder om kwaliteit in te boet? Watter digters se werk vind julle toeganklik, of voel dit of jy ʼn meestersgraad in die letterkunde nodig het om poësie enigsins te verstaan? Aan watter kant van die kloof tussen die ivoortoring en die gepeupel bevind jy jouself?

Vir die LitNet Akademies-artikel moet jy jou platkopskap vir ʼn wyle op die agtergrond skuif en konsentreer wanneer jy lees. Moenie sleg voel as jy nie onmiddellik alles snap nie; probeer is die beste geweer. Ja, aanhouer wen en waar daar 'n wil is, is daar 'n weg.

Op die literêre front heers daar allermins ʼn stilte. Prof John Kannemeyer is die josie in vir prof Hennie van Coller van die Vrystaatse Universiteit, asook vir die digter, Daniel Hugo.

Nou ja, as julle dink julle kan bakleierig raak op SêNet, gaan loer gerus hoe die groot bulle dit doen.

O genade, meneer Breytenbach, die gepeupel het gepraat!
Ek is bevrees u sal maar moet inval by die wil van die meerderheid, die skuilnamiges. U is welkom om hulle verder te probeer oortuig om van hul harlekynpakke ontslae te raak.

Julle moet my nou asseblief eers verskoon; ek word getrakteer op middagete deur ʼn besoekende digter. Ai, die lewe is tog so swaaaaaaaar.

Red asb vir Webvoet van totale ondergang!


Oor die politiek:

Hoekom politici en ander beleidmakers enigsins sukkel met komitees en goeters, weet ek wragtig nie. Hulle kan mos maar net SêNet lees om die antwoorde op alle vrae te kry?

Die verhouding tussen "regses" en "linkses" op SêNet is iets wat my nog altyd fassineer. As webvoet is ek in die besondere posisie om tussen uiterste vure te sit.

Dis lekker om vir ʼn afwisseling die rustige, beskaafde toon in debatvoering gade te slaan in hierdie uitgawe. Gaan lees hoe lekker gesels Francois le Roux met Dan Roodt oor sy sienings van die mensdom en die Afrikaner se aanpassingswil op hierdie kontinent - geen verwyte, geen skellery of politieke sluipaanvalle nie.

Nou ja, gelukkig het die "regses" wat op SêNet skryf ordentlike maniere. Ek sal maar Saterdag, wanneer ek ʼn draai gooi in Pretoria, vir my ʼn hings opsaal en daar verby kerkplein galop met ʼn tarentaalveer in die hoed.

Hulle nader jou met die deursettingsvermoë waarmee ʼn spinnekop op sy vasgeknelde prooi afstorm.

Toe Anne my vra hoekom Afrikaan so regs is en hoe lank ou Blou Makou al in Nieu-Seeland woon, het ek summier ophou wonder hoe nugter sy is wanneer sy SêNet saans oopmaak.

Ek wonder of die regses net so lekker kan kuier soos die ou spul liberaliste? Blou Makou, wanneer braai ons?

Nou wonder ek wie daarin sal belangstel om in hierdie Boere-Las Vegas te wil gaan woon. Wie gaan skoonmaak en die tuine versorg terwyl die witmense agteroor sit en ontspan?

Afrikaan het onomwonde laat weet hoe hy voel oor die nuutste "Nuwe Jerusalem". Anton B ook. Jelleke het seker al plek bespreek ... Wat dink julle?

Namib praat in sy brief in hierdie uitgawe soos iemand wat die handboek vir sluipskutters in die SA Weermag van weleer geskryf het. So bied Êfrikôn se skrywe oor wapenvervaardiging in die vorige bedeling ook stof tot nadenke.

Kyk, ek haat politieke korrektheid omdat dit so ʼn ooglopend gefabriseerde leuen is. Maar ek glo ook dis ʼn broodnodige sonde binne ʼn samelewing wat in ʼn oorgang is van een tipe bedeling na ʼn ander. Juis omdat sensitiwiteite rondom ras so primêr aan die orde is.

Oor SêNet-skrywers:

Geitjie blaas soos ʼn reptiel wat teen ʼn toiletmuur afgeval het, terwyl ander kommentators ons vriend in Holland behoorlik onder die klippe steek.
Christoffel sleep vir Koos Kombuis aan die hare by nadat ek hom so netjies aangemoedig het om bietjie meer positief te dink oor Suid-Afrika. Siesa!

Francois Williams en Yuri se "senuweesste" het darem ietwat bedaar, lyk dit my.

Al die briewe in hierdie uitgawe, van Ploegskaar af, tussen al die moffie-manewales deur, verby Pouveer se Camino-verslae en skuur-skuur langs Angus se skaakpaaiboelie, is van lieflike gehalte. Lees elkeen met ʼn oop gemoed.

Die Dementor se sin vir ordentlikheid het duidelik ʼn invloed op mede-skrywers. CP spandeer bv vandag net een briefie aan sy gunsteling subjek, Francois Williams. In ʼn verrassende wending nooi hy SêNetters in 'n ander brief om beskaafd insae te lewer in sy delikate onderneming om ʼn jaggeweer te bekom.

Kleinboer, jou ou bruut! Waar het jy al ʼn letterkunde-prof gesien wat nie effens queer is nie?!

Francois, dreig jy of belowe jy nou?

Ludolf, ek sou jou eerder oorweeg het om debatte op te kikker.

Enige moederhart sal verkrummel as die volgende briewe oopgemaak word:

André Swiegers oor koerante en versoening (hoofsaaklik omdat die anties dink hy is so ‘hot' - hehehehe.

Al die briewe waarin raad gegee word vir Anoniem oor haar seun wat ʼn regte ou daggakop is.

Siener se jongste samesweringsteorie.

Paul se nuutste boekwurm-raaisel.

Maya en Sue se ondersteuning van 8 Mei as amptelike "Moffiedag" op SêNet.

Oom Daan se wild-en-wakker klappe na alles en almal wat hom irriteer.

Wees egter gewaarsku: enige moederhart mag dalk net gaan staan as gevolg van dié briewe:

Kobus de Klerk oor diegene wat agter Ben-Hur staan.

Enige briewe wat die woord "oase" in die titel het.

Anton B en Jelleke Wierenga striem die ANC oor verskillende sake, terwyl Oester en Francois Williams in die bres tree vir vroue wat te doen kry met ongemanierde mans.

Kobus de Klerk het hom die toorn van die nasie op die hals gehaal nadat hy sy lyf onlangs begin ginekoloog hou het. Hy staan bont om die aanslag af te weer; ek sien Lavinia is selfs doenig met sy prostaat!!!

Melt:

Ek is vreeslik jammer dat vandag se uitgawes later as gewoonlik verskyn het, en dat dit bietjie minder briewe bevat as wat julle normaalweg verkies.
Sien, ek het heeldag op die balkon buite die LitNet-kantoor gestaan en die verkeer dopgehou.

Hoe lyk ʼn mouter wat "beroof" is? Staan hy met sy bonnet in die lug? Hehehehe.

Oor my vergadering gister in die Kaap het ek nie veel te sê nie, behalwe dat die enorme sokkerstadion in Groenpunt pragtig lyk. Kompleet soos ʼn opgetakelde ark wat in gereedheid gebring word om Kapenaars binnekort weg te voer na ʼn onbekende bestemming.

Ek moes hard baklei teen die trane daar in Georgina se kamertjie in haar huisie op Karos. My gedagtes het troebel geraak want ek was intens bewus daarvan dat die bediende-stelsel soos wat dit in die apartheidsjare gegeld het, niks minder as ʼn vorm van slawerny was nie. Altans, soos ek dit ervaar het.

Ek is so bang ek gaan my menopouse binne en raak die kluts kwyt soos ʼn buur-oom uit my kinderjare. Hy het, toe dié spesifieke beproewing hom te beurt val, ʼn skelmpie gekry om sy Woensdagaande mee op te kikker, en elke keer voor hy sy El Camino opstart om vir haar te gaan kuier, het hy sy vrou se haarsproei gebruik om onder sy blaaie te spuit.

Ek is so bang ek is op daai stadium. En vir katoolsgeit het ek rêrig nie krag nie.

Moet asb nou net nie te persoonlik raak nie; ek wil nie kort-kort in trane uitbars of selfmoordneigings ontwikkel nie!

Geheime gedagtes van ʼn ploeteraar:
Jere, ek is lus vir ʼn sigaret!
Fokkit, ek hoop ek vang die Spar oop vir ʼn bottel Tas. Gelukkig het die girls in die kantoor nie agtergekom ek het vandag ʼn hangover gehad nie. Hulle dink dis griep ...
Daai dik-SureSlim-foto van my lyk nou maar een maal etter - gaan dit môre verander.

Die gesig in die eerste foto is nie van ʼn wederdoper-tante nie, dis Webvoet toe hy verlede jaar nog soos ʼn voervark gelyk het. Die tweede foto op die advertensie is ʼn akkurater weergawe van hoe hy deesdae daar uitsien.

Ek klik gereeld op 'n e-posboodskap waarvan die sender spog met 'n naam soos Hendrik Fouché, net om verras te word deur 'n Viagra-aanbod of 'n aansoek van 'n Nigeriese dame wat troukoors onder lede het.

Mnr Myburgh en Me Cabano vertrek Saterdagaand na ʼn onbekende bestemming vir hul wittebrood. Dié twee beplan om binnekort ʼn kindjie aan te neem. In ʼn ongewone stap het Mnr Myburgh besluit om Me Cabano se van aan te neem.

Opinies is nie gelyk nie. Almal se opinies moet egter aangehoor word.

Ons ego's is ons grootste vyande, terwyl ons intuïsie ons getrouste vriende is.

Hier op Stellenbosch reën dit al heeldag.
Dit sous behoorlik.
Katte en honde, seg ek julle!
Hier het netnou ʼn ark verby gedryf. Ek lieg nie!
Waag jy dit buite, lyk jy binne ʼn ommesientjie soos ʼn nat hoender. Sambreel help nie.
Waar het ek nou weer daai bleddie snorkel gebêre?

Gister, toe ek per trein terugkeer vanaf Kaapstad nadat ek in die hart van ʼn kapitalistiese hoernes moes gaan verkeer, het ek vreeslik gedink aan die SêNetters.

Sonder julle is SêNet niks. Sonder SêNet is ons almal minder.

Ek loop inderdaad in die omhelsing van liefde

Wiefer is nou waffer? - Melt Myburgh

Ellen Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top