Bokomo-brekfisbrief; 11/08/2010: Spoed (P)

  • 0

My groot vriend in China praat van Busa en goeters en toe wonder ek oor hierdie ding met spoed. En terwyl ons van Busa praat: Wag tot jy op een klim en sy oor draai en die perde onder jou agterstewe voel hol en dan praat ons weer. Want dit is iets byna soos geloof: Hy byt jou en dan raak jy of fanaties of jy voel vere. Of nee, ek is verkeerd: As jy een keer op 'n Busa geklim het is jy bekeerd en klaar.

Verstaan my mooi: Ek sê nie spoed is goed nie. Die keisers beduie ons mos daagliks dat mens tog nettie vinniger as 60 moet aankruie nie. En ons weet mos dat die politici alwys is en nie verniet wette maak nie. Speed kills en al die lekker dinge, nè?

Tog ...

Ek verkies om teen 'n hoë spoed vinnig tot my einde te kom as om teen 80km/h in 'n ongeluk betrokke te wees en vir die res van my lewe aan 'n kooi vasgekluister te wees waar ander jou moet versorg vir wat oorbly van jou lewe. En glo my, as jy selfs net met 'n los klippie op 'n draai teen 240 verkeerd kontak maak op 'n Busa gaan jy stuk vir stuk opgetel word.

Ek wonder dikwels: Hoekom maak hulle die goed as dit nie gebruik kan of mag of wil word nie? Ja-ja-ja, ek weet dit is nie streng binne die wet nie, maar net so is lelik op straat of spoeg in iemand se tee ook nie altyd reg nie, nè? En ja, ek weet, as jy teen 240 teen 'n gesinsmotortjie te lande kom gaan daar nie mense wees wat daarvan kan oorvertel nie.

Dis net: Teen 'n sekere spoed is dit asof dinge meer, mmmmmmmm, helder is. Jy let meer op. Die stuurwiel of dit waaraan jy vashou voel net beter. Jy is bewus van dinge. Jy let op na elke voertuig vir daardie halwe sekonde wat jy hom sien en sien verdwyn.  

Spoed is soos sigarette of vuurwapens of messe of té nou onderbroeke of wierookstokkies of drank of televisie of wel, so kan ons aangaan, nè. Dis nie goed vir jou nie? Of is dit?

Tog: In plaas van sit en wonder oor die teeblaartjies onder in my koppie of sit en grens oor die sin agter alles en sit en kla oor een of ander luigat Pietie se lot iewers is dit dalk tog beter om soms net te leef. Al is dit potensieel dodelik. Want sit jy eendag in jou stoel iewers as 'n ou man: Wat gaan jou storie wees wat jy gaan vertel? Dat jy bloot net bestaan het en hier opgeëindig het bloot omdat die lewe jou so goed behandel het? Ek weet darem nie so lekker nie.

Ons ry so hier in Oesterland toe die klakka-klakka geluid opklink hier van voor af. Probleem egter is dat as jy op spoed is jy nie regtig lus is vir afslek nie. Buitendien: Mens is mos maar haastig.

Ons stop en ek laat roep iemand wat meer weet van meganika as ek om te kom seker maak of my eie vermoede reg is. Ons soek en bespiegel en karring rond oor bearings en steering rack en nog wat tot Charles se vroutjie beduie: "Hier kort wheel nuts". Erg ongeërg.

Dis toe dat ons sien dat die wiel basies so los is dat dit 'n godswonder is dat ons hier geland het.

Charles beduie kalm: "Jy gaan jou nog in jou moer ry. Dra maar jou veiligheidsgordel. Dit kan jou lewe red."

Goed en wel vir vier wiele. Maar hoe lyk 'n GS se veiligheidsgordel?

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top