Maties en Ikeys het intervarsity gehad toe dink ek so aan hierdie ware storietjie. Laat dit vir ons ‘n les wees.
Koshuisrugby
Koshuisrugby was 'n baie groot en ernstige saak by JBM Hertzog UOVS - baie belangriker as die akademie. Ernstige reëls wat tot die dood toegepas word was aan die orde. Veral een wet wat vas gestaan het was dat net die ouens wat oefen kry plek in die eerste en tweede spanne en al die wat geoefen het kan in die 3de span speel. Al is jy nou ook 'n Springbokspeler en hoe onmisbaar ook al vir die wedstryd - as jy 'n oefening gemis het kan jy maar vergeet om op te draf.
Die derde span is dan die entoesiastiese amateurs waarvan een van die reserwes Flatus was, vanweë sy geweldige oordadige entoesiasme. So 'n taai maer outjie met dun harerige bene. Wat hy van fisiese bou en vaardigheid tekort gekom het hy ruim opgemaak met sy super maniese entoesiasme vir die spel rugby.
Die voorryman van die derde span kry toe op 'n slag seer terwyl ons manne swaar leef met die verloor - en wat die kaptein besiel het weet ons nie - maar Flatus word toe ingespan as vasskop stut.
Almal langs die veld het begin lag hoedat die arme ou Flatus verniel word. Hy word in alle rigtings gedruk - met sy kop tussen sy bene en onder deur sy kieliebakke en bo-uit die skrum uit op, onder deur die ander se bene en altyd heel onder in die losskrums - alle moontlike en onmoontlike rigtings word arme ou Flatus verrinneweer. Maar elke keer nadat die opponente klaar vervyf het, dan is dit hy wat eerste by die middellyn gereed is vir die afskop soos vir die mylwedloop - vreeslik gemotiveerd om weer te probeer - tot die grootste vermaak van die toeskouers.
Later skree die afrigter vir hom: "Flats, hoe gaan dit ou maat?"
"Dit ... hyg-hyg ... sssssukkel mmmmmaar ... hyg-hyg ... so 'n bietjie Prof ... hyg-hyg-hyg ... maar hy gaan NOU kak!!!!"
Outoppie


