Bokomo-brekfisbrief; 11/03/09: 'n Glyer se storie aangaande my pragtige Moedertaal

  • 0

 

 

Ek het gelees, geluister en gedink. Dit is nou oor die Afrikaans wat net elke tweede woord 'n Afrikaanse woord is. En dit is my waarnemings.

Op Kuduklub het ek die geleentheid om sekere programme op KykNET te sien. Ek kyk graag na Wat is die storie? Wat vir my so mooi is, is Shemane Harris en Tim du Plessis se gebruik van Afrikaans. Sy het 'n pragtige uitspraak en hy praat gewoon soos wat hy grootgemaak is. Ek verlustig my in die hoor van my taal so suiwer en mooi gepraat. Waar Shemane leer Afrikaans praat het, weet ek nie, maar baie wit Suid-Afrikaners kan gerus by haar gaan leer om te praat.

Dan sien ek weer dié wat absoluut so pateties praat. Soms is elke tweede woord Afrikaans en soms elke derde woord. So, as jy nie Engels kan praat nie, dan verstaan jy nie daardie mense nie.

Die laaste tyd was my rekenaarwinkel vreeslik besig. Daar kom baie verskillende mense in en die laaste week of twee het ons aantal Nederlandssprekende klante gestyg soveel so dat ten minste 40% van die klante Nederlandssprekend is. Natuurlik werk dit ook maar so dat mense by mekaar hoor dat ons "Nederlands ook spreek". Ek koop nou baie Nederlandse Windows en Office aan.

Laat ek maar eerlik wees, ek kan nie Nederlands praat nie, maar net Afrikaans. Maar ek, my man, my broer (almal oor 50) en my twee meisies kan almal Afrikaans soos in die Bybel (1953-vertaling) praat. My broer is 'n kunstenaar en hy het geleer om Nederlands korrek te praat.

Nou wat sien ek nou? Ek sien die Nederlanders is TROTS op hulle taal. Hulle praat dit tuis en die eerste wat hulle sê as jy dan Afrikaans met hulle praat, is "dit is soveel gemakliker om Nederlands te spreek". Onthou, hulle woon ook net soos ek nie in hulle eie land nie. Hulle weet ons praat Afrikaans en hulle sien Afrikaans as maar net een van die vele Nederlandse tale (bv Fries of Hollands).

Daar is ook ander Afrikaanssprekendes in ons omgewing wat nie die taal formeel kan praat nie, en die Nederlanders verstaan hulle soos in glad nie. Hulle skakel oor na Engels, want hulle verstaan nie - wat ek sou noem - swak Afrikaans nie.

Ek is baie lief vir my taal en vind dat Afrikaans die wêreld vol trek.

Maar 'n verengelsde Afrikaans het geen toekoms nie, want waar meer as 80 miljoen mense buite Suid-Afrika op die aarde my Afrikaans verstaan, verstaan net die mense in Suid-Afrika die nuwe Afrikaans. Diegene wat die taal afbreek en net so stukkend wil maak soos die stinkende damme en paaie vol gate, dank Vader dit is nie meer in julle vermoë om ons Taal so stukkend te trap nie. Julle invloed is net eenvoudig te min en net in SA van toepassing.

Carina

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top