Jy kannie op jou oudag jou klogoete beduie om mooi te loop as jy klaar die voorbeeld gestel het nie. Want dan gaan hulle vir jou beduie: "Ja, maar pa het dan sus of so gemaak." En dan sit jy met jou hanne in jou hare.
So het ek vir neef Piet bekyk hoe hy sy klogoete grootmaak, en dikwels gewonder oor die dag as hulle self groot genoeg is om in die donker rond te loop en katjies te knyp.
Want sien, Piet het mos ’n ander manier van dink oor vrouens en vroumense en hoe mens met hulle te werk gaan. Hy glo mos hy is jagter en moet verower en as hy verower het moet hy verorber. Tot die punt waar hy nou met ’n spul kleintjies sit wie se moeders gedurig moet hof toe om die papgeld te kry. Neef Piet glo mos nie aan die goete wat seker maak daar is nie kleintjies nie, en glo dat die vrou wat sulke goete gebruik net verskoning soek. Hy slaak jaarliks ’n sug as sy taks minder word, want soos die klong uit die huis gaan so raak sy verpligting minder. Maar dis nie helemal waar nie (ek gaan hom nie reghelp nie) want soos die klogoete uit die huis kom hulle maar weer terug en kom werk maar vir hom. Vir kos en klere en soms ’n rand of tien om te loop dans. En ’n dak oor die kop.
Annerdag kom Piet vloek-vloek (soos gewoonlik) hier in en by navraag skel hy soos gewoonlik of een of ander vrou of hy skel een van die klogoete. Jy weet: "Ek het my eksvrou beduie om die donnerse maaksel dood te lê maar sy was mos hardhorend! Nou sit ek met die donner wat nie sy gulp kan toe hou nie!"
"Maar hoe dan nou, Piet?"
"Nee, dis mos pampoenkoekies vreet tot ligdag toe en nou laat weet ... my haar dogter is in die ander tyd!"
Hierdie klink toe vir my na ’n sappige Piet-storie en ek moet maar loop moeilikheid maak en uitvra en bietjie onderlangs roer. Want ek ken die kleine mensie wat so pampoenkoekies voer vir die vale. Bakoortjies en klein van postuur. Fluister as sy jou antwoord en kyk altyd af grond toe as sy lag, so met die klein onderlippie. Ek kan my nie voorstel dat sy nou al vir enige jonge man met ’n spul planne nou al iets anders as pampoenkoekies sal voer nie. Verkeerd! Dis daai stil diep tipes wat die raserige rumoerige tipes is as jy hulle ’n halwe kans gee.
Ek vra later vir Klein Piet of hy nie vir my ’n lekker resep het vir pampoenkoekies nie maar die ou maak hom rooigesig uit die voete. Klein Piet se boetie kom tot die redding en besef eers nadat hy gepraat het dat hy eintlik sy mond moes hou: "Hy is nie al een wat pampoenkoekies geëet het nie, daars ander ook en nou wonder ons ..."
"Wa-wa-wag nou, Klein-klein Piet, het jy ook loop pampoenkoekies geëet?" En ek kyk hom solid in sy oge.
"Ek was daar na hom ... " en jy weet mos hoe dit is as jy iets sê en jy wens jy kon jou woorde insluk en wegvat of hoop niemand het jou gehoor nie.
Ek sien Kleine mensie loop nou met ’n wildvreemde mannetjie aan die hand, alte liefies. Sy wys al en ek wens ek is die dag daar as dit sulke tyd is en die klonkie se hare spierwit is. Wonder of die mannetjie sal wonder as die hare spierwit is of ander ook van daardie lekker pampoenkoekies geëet het?
Moet sê, Kleine mensie se moeder maak werklik heerlike pampoenkoekies, maar ek is nie lief vir pampoen nie. Ek vra haar annerdag oor al die gebakkery en sy beduie met ’n stomp vloek dat sy nou klaar is om te bak en te brou en niemand eet van haar kos nie. Die mannetjies kom en dan vat hulle net sulke klein happies om vol borde opsy te skuif om hulself te verskoon om musiek te loop luister in die agterkamer. Sy vermoed die ergste en belowe met dieselfde stomp vloek dat sy beslis vir Kleine Mensie gaan stuur vir bloedtoetse, want die skuldige moet uit.
oester


