Bokomo-brekfisbrief; 11/02/2010: Odyssea en 'n aarde sonder olie

  • 0

Beste Odyssea,

Jy het my nou lekker aan die dink gesit en ek het in my gedagtes ‘n pad begin stap. Ek is nie ‘n kundige op enige gebied nie, maar my gesonde verstand laat my ‘n skrikwekkende prentjie optower, wat dalk nie noodwendig sleg sal wees nie.

Geen olie is gelyk aan geen brandstof, geen motors, vragmotors, trekkers, vliegtuie, skepe, ruimteskepe ... dus geen vervoer soos ons dit vandag ken nie. Hele ekonomieë sal in duie stort. Geen produkte in winkels, leë kosrakke, 'n algehele ineenstorting van die landbou en vervaardigingsbedryf is ons voorland. Daarmee saam staar hongersnood, watertekorte (die geoliede waterpompe gaan tot stilstand knars) en duisternis (kragopwekkingsturbines ... selfs water- en windopwekking het ook olie nodig) ons in die gesig. Dis ‘n skokkende scenario en ek weet nie of daar al agter die skerms gewerk word om hierdie ramp die hoof te bied nie.

Intussen het ek al aan ‘n paar plannetjies gedink. Elke stedeling wat ‘n stukkie grond om sy huis het, moet dadelik ‘n watertenk opsit, sy eksotiese varings, palms en kikoejoegras uitspit en die grond begin omdolwe vir ‘n goed beplande groentetuin, wat deur die jaar groente lewer. Plant vrugtebome van elke soort. Nie lank terug, toe ek ‘n kind was, het elke dorpstuin kweper-, koejawel-, perske- en vyebome gehad. Daar was selfs druiwepriële, appelkoos- en pruimbome. Granaatlanings was ook nie vreemd nie en vandag is dit die nuwe "gonsvrug" van gesondheid. Vir tien patetiese pitjies betaal ‘n mens by "Woollies" ‘n fortuin ... en die mammies koop dit!

Skaf dadelik ‘n paar hoenders aan en sorg dat die haan snags in die garage slaap sodat hy nie die bure wakker kraai nie! ‘n Melkkoei sal bietjie van ‘n probleem afgee, maar as die plotbewoners naby elke dorpsgebied, daarvoor kan sorg, is ons koppe deur. Om die melk te vervoer, is dit maar weer terug perdekarre toe. Die wiele kan sommer geolie word met die botter wat gekarring word uit die vars melk. Vir woonstelbewoners en die "penthouse juppies", voorsien ek swarigheid. Hulle sal maar hulle ware moet koop op straatmarkte, waar die "jaartbewoners" hulle oorskot verkoop.

Die goeie wat hieruit spruit is: Nuwe innoverende denke, die doodsvonnis van die verbruikerskultuur, lekker oop paaie, geen geraas van voertuie, geen gejaagdheid na wind en geld, elkeen op sy plek (niemand kan meer rondvlieg en hul op ander plekke vestig nie) en die beste/die allerbeste ... skoon, onbesoedelde, vars lug!

Ek sien ook ‘n terugkeer na eenvoud, rustigheid en basiese waardes.

Groetnis,

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top