Jy weet mos maar hoe dit gaan as jy by ’n drankwinkel in- of uitstap. Alewig is daar ’n rondhanger wat jou sleeptong voorkeer vir kleingeld. Mens gee liewer nie want jy weet waar die geld heengaan en buitendien: Allpay gee sommer baie vir gesonde mense om leeg te lê op die belastingbetaler se onkostes. Moet sê, die regime het heelwat gedoen om mense nie meer skuldig te laat voel oor die bietjie wat hulle het nie. Maar ons praat nie nou van bose mense of politici nie. Ons praat van ’n doodgoeie ou dronkgat wat eintlik meer goed in die vuil onder sy toonnael het as al die politici en presidente en ikone saam. ’n Doodgewone dronkgat wat nou weliswaar nie een of ander groot vredesverdrag namens iemand onderteken het of nie een of ander groot vryheidstryd baklei het of een of ander groot lyding onder lede gegaan het vir mense wat in elk geval ’n veer voel nie.
Ieder geval, so kry ek vir Haskwaan. Hangende aan een of ander suurwyn-ruikende vrou. Asof hy lief vir haar is. Hy groet asof ek hom in die wêreld help bring het en ek sien hom. Want ek ken hom al vir ’n lang tyd. Voor hy hier op straat rondgelê het. Ek vra hom hoe dan nou en hy beduie dat hy nog steeds vir Kan werk. Maar hulle is nou af en nou hang hy maar rond.
"Maar hoe dan nou met hierdie ene langs jou? Het jy dan nie meer vir Kana nie?"
"Nee, ek het haar nog. Sy is oppie plaas, sy kyk na die klogoete. Hierdie is sommer ’n spiritsbek vir die week.”
"O, ok ..."
Ek weet ek maggie iets uitlap nie, want al is Kana net-net 5 voet hoog sal dit bars gaan as sy bedonderd is.
"Het jy nie vir my ’n vyfrandjie nie? Ek kort ’n las vir ’n botteltjie."
Ek weet ek moenie gee nie want hy is klaar vallende maar hy is ten minste eerlik oor waar die geld heen sal gaan.
Maar Haskwaan was nie heeltemal eerlik nie, want later hoor ek self by ou Kan dat selfs hy gatvol geraak het vir manne wat dronk by die werk opdaag. Want dis dalk nog aanvaarbaar as die man agter ’n lessenaar sit maar beslis nie as so ’n man met ’n Stihl moet werk nie. Ons ken mos maar almal die ou storie van die myners wat so kon werk as hulle daai Groen Boom van Kennis gerook het(en die gerugte dat die mynbase dit stilweg goedgekeur het) maar dis anner soort werk. ’n Man vol wyn se reaksies is doodeenvoudig net nie wat dit moet wees nie, veral nie as daai Stihl dalk net "kickback" nie (wat nogal heel gereeld gebeur). Die gevolge as die saag dit doen is nie ’n mooi gesig nie. Letterlik.
Haskwaan het hom uit sy werk gedrink. Nou saag hy vir Sakkie. Sakkie het basies nie ’n saak met arbeidswetgewing nie. Hy klap as jy selfs net effens na drank ruik en hy betaal sommer baie minder as die minimum loon. Ek vra nou die dag toe Sakkie se manne hout aflaai hoekom die manne so vaal is asof hulle honger is. En letterlik spring as hy blaf?
"Nei," beduie Sakkie
"Hulle wou kom lospraat oor teetyd en etenstyd toe moes ek inklim onder die lot. Partykeer moet mens met die vuiste praat."
"Herre, Sakkie, dis mense die, dis nie honne nie! En mens slaat ook nie eens jou hond sonder dat jy hom uitvang nie. Jy kannie so werk met mense nie, wat van Mannekrag?"
"Ek het hulle lankal beduie dat hulle maar kan loop kla en my loop aangee. Ek sal hulle donner tot daar en weer terug."
Ek kannie oordeel nie. Ek kannie vir Sakkie loop aangee nie, want ek sien dit sal geen nut dien nie, en buitendien, Sakkie het soos ’n kind voor my pa grootgeword. Haskwaan en die ander manne sal in elk geval alles bloot ontken. Tog, en jy kan hiervan maak nes jy lus het: Ou Kan het op ’n goeie dag so 30 sakke hout gesaag, en elke stukkie wet aan voldoen. Sakkie saag nooit minder as 100 sakke per dag nie en minag elke liewe artikel in die designer-arbeidswette (en nog ’n paar ander). Ou Kan is ’n sg wit man en Sakkie ’n sg bruin man. Net terloops.
Soos Apie vir Haskwaan beduie toe sy been intrap onder die sak se gewig: "Smaak my jy moet vir jou ’n sagter baas kry om voor te werk, jong!"
Haskwaan het binnensmonds beduie na iets wat geklink het soos: "Djy het ’n jong vrou, sy vreet nog op. Djy ken vir Kana, sy vattie kakkie."
Die manne beduie mos vir jarre lank al: "’n Vrou is soos ’n tweedehandse motorkar. Hy lyk mooi en blink en alles, maar die dag as hy op jou naam is dan begin jou kak." In Haskwaan se geval is dit beslis so. Of sy het uitgevind van daai anner vrou.
oester


