Jis, dis darem 'n lekker land dié!
In die Vrystaat (veral die hoofstad) kan jy verkeersreëls na willekeur oortree, want soos die koerante berig, werk geen spoed- of ander kamera meer nie omdat die onafhanklike instansies maande lank nie meer vergoed word vir hul diens nie.
Ander staatsdepartemente soos Binnelandse Sake neem nou 6 maande + om 'n volledige geboortesertifikaat uit te reik. Vir die wat nie weet nie, dis 'n sertifikaat waarop jou (biologiese) ouers se info ook verskyn. Vroeër jare het jy sommer by die toonbank daarvoor gewag. As jy nou soos ek vêr van die beskawing woon, is dit nogal 'n geneuk!
En die rubbish wat in die vorm van demokrasie aan ons opgedis word deur die SABC! My grootste nuwejaarsvoorneme is om NIE meer my TV-lisensie te betaal nie. Hoofsaaklik as gevolg van verlede Sondag se aflewering van Asikhulume met Xolani Gwala.
Dit verstom my dat nie een media-lid nog sy mond oor die absolute korrupsie gewas het nie, of is Koos Kombuis en Dagga Dirk nou belangriker as 'n program waarvan die inbel resultate totaal gekook is? 100% van die inbellers het gestem die bohaai oor die bees wat die Zoeloes op wreedaardige manier van kant gemaak het, was 'n kleur en nie 'n wreedheids-issue nie. Ek en vriende kon nooit deurkom nie ... ek sê jou hulle het die telefone van die mik gehaal! Volgens die wet van gemiddeldes (én die hoeveelheid sms'e teen sulke wreedheid wat onderaan die skerm verskyn het) kon dit nie 100% wees nie. Kook dit darem net dat dit geloofwaardig lyk my hemel! Die ergste was dat die program nie eers ter wille van Steve Smith van die Animal Rights groep in Engels aangebied is nie. Hy kon natuurlik nie 'n woord verstaan nie, en wanneer hy aan die woord was, is hy heeltyd in die rede geval deur die arrogante Gwala wat hom kortknip en daarop hamer dat ons wittes geen verdraagsaamheid het nie. Ek is klaar met die SABC en die betaal van TV-lisensies.
En of die gekook nie genoeg is nie, sien ek uit en TUIS-tydskrifte leer ons nou om Kerskranse te maak van dinge soos metaalkransies wat ons in begraafplase kan gaan "optel". Dit het natuurlik 'n naam, mnr of mev die redakteur. Ons noem dit sommer in plein Afrikaans, grafskending.
Sunette Human


