Bokomo-brekfisbrief; 10/09/2010: Blou Dam en skelmstreke

  • 0

Enige behoorlike visserman sal weet: Jy vertel nie jou plekke vir ander nie. Want soos die waters tans is moet jy jou oesplekke nie uitbasuin aan die hele wêreld nie. Jy staan voordag, lank voor die eerste voëltjie begin poep het op, want die wind is Noordwes en jy weet: Dis Vleesbaai se wind hierdie.

Of as die wind hier teen sesuur die aand Suidoos draai dan weet jy dat die Blou Dam môre goed leeg gaan word. As hy aanhou waai deur die nag dan weet jy die Blou Dam gaan more erg "drawback" hê, so jy gaan sand hê oral waar dit nie nodig is nie. En glo my maar, jy het sand tot tussen jou tanne.

Maar soos hierdie Blou Dam se gewoonte maar is is die plekke toegesand. Die oesplekke is skaars en nou kom die oëverblindery. Jy stop by Pietie en Pietie vra vir jou: "Hoe lyk Sy daar na die punt se kant toe?"

"Nee, jy kan maar los, Sy sleep daarso. Hierdie is die beste plek, ek dink ek gaan maar aantrek en skarrel vir twintig of dalk vyftig". En jy voel skuldig want jy lieg eintlik oop oë sonder om te bloos, want jy weet goed dat Sanddrif 'n groot plaat het, maar jy dit nie wil verkondig nie. En jy wag tot Pietie sy duikpak aanhet en die duin af koers kies en dan ry jy weg.

Daar waar jy weet die groot knoetse sit wat lyk soos klippe. Daar waar die groot golfers se paleise nou staan waar eeue oue Melkhoute teen die elemente vir eeue gestry het. En oorleef het tot die dag wat die stootskrapers hulle lewens beëindig het ter wille van "goeie beleggings" of "goeie uitsig". Thysie beduie: "Jou bliksem! Mens steek die goed dan droog af! Ook goed ek't jou gevolg!"

"Moet nou nie vir almal vertel nie, ok? Want more gaan almal ons bo-val. Net jammer vir hierdie donnerse duin, pleks ek’t 'n draer saamgebring!" Jy kyk op na hierdie siek Toskaanse namaaksels en jy wens in jou stilligheid dat die Blou Dam 'n slag behoorlik rof moet raak en die duin net bietjie moet wegvat sodat jy weer soos vroeër deur die bospaadjie moet stap tot jy die "rush" kry. Want die spul gholfsterre het hul paleise kom bou op die sand.

Visserman. Vreemde spesie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top