Bokomo-brekfisbrief; 10/08/2010: Dis lekker in die beskawing!

  • 0

Ons het uiteindelik weer die beskawing bereik en ons geniet dit wel deeglik. Ons is in ’n dorpie met die naam Mazarrá½€n aan die Meditterreense kus in die suide van Spanje.

Nadat ons met ’n groot geskarrel in Marokko aangekom het, was ons aanvanklik maar baie skepties oor Marokko maar dié houding het uiteindelik verander en het ons Marokko werklik baie geniet. Vanaf Agadir is ons na die Atlasberge en het ons die mees asemrowende natuurskoon belewe. Ons het na die Dades-vallei gery en het toe in die Todra-ravyn opgery. Op ’n sekere punt is die ravyn se kante slegs 10 m wyd en etlike honderde meters hoog – werklik ’n ongelooflike gesig. Aan die einde van die ravyn het ons lus geraak vir bietjie ernstige 4-strek ry en twee van ons besluit toe om oor die berg te ry na die Dades-ravyn. Dis ’n roete van omtrent 40 km en het ons ’n paar ure geneem. Die ander ou kry toe ’n pap wiel van al die skerp klippe waaroor ons gery het. Aan die anderkant aangekom sien ons toe weer ongelooflike natuurskoon wat die moeilike ry vergete gelaat het. Die foto’s hieronder wys ’n paar van die tonele.

Na dié heerlike avontuur moes ons nog ’n paar honderd kilometer na Marrakesh aflê. In een van die klein dorpies in die Atlas-berge wys iemand na my agterste wiel en ontdek ek toe dat ek ook ’n pap wiel het. Ons het die aand donker in Marrakesh aangekom, stokflou maar baie tevrede. Die volgende dag het ons Marrakesh ingevaar en die medina (ou stad) beleef. Die plein kom eers na 8 saans goed op dreef en ons het ons vergaap aan al die aktiwiteite en kosstalletjies wat van skaapkoppe tot beesuiers bedien! Op aanbeveling van ons goeie vriend Pieter Redelinghuys is ons na die Hotel Mamoumia wat een van die spoggerigste hotelle in die stad is. Tot ons uiterste teleurstelling kon ons nie vêrder as die voorhek vorder nie omdat ons mans kortbroeke aangehad het (dit was immers amper 40 grade Celsius!) en hulle ons nie wou toelaat nie. Ek neem aan Pieter reis ’n bietjie meer in styl as ons gewone sterflinge!

Van Marrakesh is ons na Casablanca waar ons na die derde grootste moskee in die wêreld is - naas die moskees in Mekka en Median in Saoedi-Arabië. Op ’n Vrydag aanbid tot 25 000 Moslems binne die moskee en gedurende Ramadan aanbid 25 000 gelowiges elke dag binne die moskee en ’n verdere 80 000 buite die moskee op die plein! Dis werklik ’n indrukwekkende struktuur alhoewel ek nie heeltemal in is op die geloof-storie nie.

Van Casablanca is ons na Fes wat weereens ’n baie interessante stad is. Hier het ek vir my ’n fes gekoop en het ons al die dinge gedoen wat ’n toeris maar doen in Fes. Hieronder is ons opgetof in Marokkaanse gewade. Die kampplek in Fes is reg langs ’n plek geleë waar troues en funksies aangebied word. Ons het vir twee aande niks geslaap nie, want albei aande is daar oorverdowend musiek gemaak vanaf 23:00 tot na 06:00 in die oggend – en dit ’n Sondag- en Maandagaand - dié mense slaap in die dag en jol in die nag!

Van Fes is ons via Ceuta per veerboot na Algeciras in Spanje. Op die veerboot het ek die bottel water wat ek in L’Agulhas geskep het in die straat van Gibraltar gegooi. Ek beplan om weer water te skep as ons van Italië na Griekeland reis en dit dan weer by L’Agulhas te gaan uitgooi. Ons het drie dae in Algeciras oorgestaan om die verlore slaap in te haal en om die beskawing opnuut te geniet. Met die rots van Gibraltar oral sigbaar het ons ons kragte weer herwin.

Aangesien van ons reisgenote nog nooit in Venesië was nie het ons besluit om via Venesië na Bari in Italië  te reis. Ons gaan dus nou koers kies deur Frankryk en deur Milaan na Venesië ry. Ons sal weer van ons laat hoor as ons in Griekeland of Turkye is.

Groetnis van huis tot huis.   

Thomas 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top