Bokomo-brekfisbrief; 10/06/2010: Lister

  • 0

Ons weet mos van die mooi geluid van daai enjin. En hoe die ligte stadig doodgaan as die tou langs Mavenster se bed getrek word.

Maar, soos Raed-na-Gael altoos beduie het: Groot sop vir daai slinger. So het oom D doer by Lobatse se omgewing op die harde manier agtergekom. Want jy moet jou draai ken as jy wil draai en as jy moet ophou draai moet jy nie uitgevang word met 'n slinger in jou hand nie.

Want, so vertel hulle baie later: Toe die ligte nie begin lig nie toe dog die mense die Lister is bloot besig met nog een van sy nukke. Want kyk, 'n Lister is basies soos 'n Ford van ouds: Jy kan hom sowaar met 'n tang en (soms) 'n hamer weer aan die gang kry. Die Lister het mos altoos alleen gestaan in 'n geboutjie met gatestene vir ventilasie, amper soos 'n koelkamer net sonder die kole. Jy weet: Jy lê die steen en dan los jy langs hom spasie oop vir die dieseldampe.

So het oom D die Lister probeer aan die gang kry toe einste Lister besluit het om beneuk te raak. Oom D het met 'n arm vol bloed ingestorm. Later, na die handdoeke omgedraai is en die F100 by die derde hek verby was het iemand onthou van die vingers. Maar vir omdraai was daar nie tyd nie, want die grens maak mos toe en dan moet jy wag tot môreoggend toe.

Wat van die vingers geword het wonder ons tot vandag toe. Dalk een van die werfkatte (antie E het mos altoos so 20 of wat van die goed gehad) bietjie ietsie ekstra gekry? Ongeag, die vingers was later skoonveld en nou beduie oom D vir jou net soos daai korporaal van destyds by 4 SAI met sy bleddie twee vingers beduie het.

En hier wyk ons af van die Lister-storie, want baie lank na basies kry ekke toe mos vir korporaal twee vingers by daai kuierplek, jy weet, daai ene wat praat van perde en goete doer by Midrand of iewers. En toe tel rang nie meer nie en al het dit getel was hy net 'n two stripe wat opkyk. Lang gesprek gehad daai aand wat basies geëindig het met seer gesigte beide kante toe, want al het 'n man net twee vingers en al moet hy op 'n stellasie staan om jou in die oê te kyk beteken dit nie hy kannie vinnig en hard slaan al het hy net twee vingers in die een vuis nie.

Ek moes hom dalk gevra het of hy nie dalk ook met 'n Lister 'n lang gesprek gevoer het nie. Dalk kon ons oor meer gesels het as my belofte dat ek hom beslis in Sivvie-straat sou raakloop. En dit sou ons baie pyn en lyding gespaar het.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top