Bokomo-brekfisbrief; 10/06/09: R!

  • 0

 

 

Jy meet nie jou boeke in SI-eenhede nie. (Daar is 'n plekkie in my plaaslike mall waar boeke gereeld per kilogram verkoop word, en ek hou maar skuins verby.) Jy meet jou boeke in belangstellings van toe en nou, passies, letterkundige helde, heldinne en booswigte, tydvakke in jou lewe.

Sommiges meer uitdagend as ander. Goethe het egter vir 60 jaar gemeet en geskaaf voor hy met Faust tevrede was. Selfs al neem dit 'n paar maande, is hy my aandag werd.

Gister het ek my R by die poskantoor gaan haal. Pragtig gebind in duursame leer, 'n groot boek en een wat lyk of dit gedruk is met die doel om vir 'n hele paar geslagte diens te doen. Daardie ander boek wat vir sommiges as enigste verwysingswerk dien, stel dit mooi: "In die begin was die Woord." Geen boek illustreer dit beter as die woordeboek nie. Selfs meer as 'n ensiklopedie is die woordeboek die een wat die laaste sê het; die finale arbiter.

Maar terug by SI-eenhede. Die Oxford English Dictionary (dis nou die regte egte een, nie die Concise, Shorter of Shortened nie) beslaan nou 'n koel 20 volumes en weeg in teen 80 kg. Ek weet nie hoeveel die Afrikaanse taal (WAT), van A tot Rywiel, weeg nie, maar dit strek vir so 0.7 meter op my boekrak. Met 'n stewige S- en V-afdeling op pad gaan ons taaltjie met gemak 'n meter kafdraf.

Chigurh

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top