Liewe Kolonie
Jy sal hierdie byname dalk funny vind: In 1971, toe die patriarg en ek altwee een jaar lank skoolgehou het in Johannesburg, is ons verplaas na die Hoëveldse Hoër Landbouskool op Morgenzon, Oos-Transvaal. Ons het altwee Engels gegee, en ek boonop nog sang en klasmusiek, biologie en aardrykskunde.
As deel van my musiekklasse het ek ʼn A-klas seuns-kadetorkes afgerig. Daar is niks unieks aan nie, behalwe dat ek die enigste vroulike gekwalifiseerde Kapelmeester in Suid-Afrika was, destyds, vir Kommandement Noord-Transvaal, en boonop heavily pregnant, want die SA Kadetorkeskompetisie was dertien dae voor my eersteling seun se geboorte! Natuurlik het die kinders vir Buks Kommetjie genoem weens sy van, Hanekom, en vir my Drommetjie, weens die kadetorkes en my bolronde vorm, 13 dae voor die bybie sou uitmarsjeer.
So gaan ons toe kompetisie toe. Ek het die Transvaal Kampioen tamboermajoor in my orkes gehad, en ook die Transvaal kampioen paar tenoortamboerslaners, en ons grootste opponente was Ermelo Hoërskool, vir Groep 36 van die Army. Die geheim was egter, niemand in die top range van die Army het geweet ek is ʼn vroumens nie, want my handtekening is redelik groot en ek het net altyd my briewe as L Hanekom onderteken. Groep 36 se finaal is toe ook op Ermelo, as verdedigende kampioenorkes gehou, en al die kapelmeesters word geroep. Sammajoor Toffy Nose Steenkamp was in bevel en beheer – hy het die seuns altyd aan die neus gegryp en effe gedraai as hulle droogmaak, vandaar die Toffy Nose bynaam. So word daar gegil oor die luidsprekers: “Mister Hanekom, please report to Bandmaster Meeting immediately!”
Intussen staan ek reg langs Sammajoor Toffynose, met my agt en ʼn driekwart maand pregnante lyf, en die ander kapelmeesters grinnik. Ek sê toe huiwerig: “Er … I am Bandmaster Hanekom, Sergeant Major.”
Ou oom Toffynose, dierbare siel, het my Drommetjie-toestand net een kyk gegee, en onbewus daarvan dat die luidsprekerstelsel oor die hele pawiljoen en veld nog aan was, bulder hy sodat 11 skole se orkeste, al die drilpelotons en al die gaste, vanaf die generaal tot die jongste korporaal, hom kan hoor: “Good God, Mister Hanekom, and just what did you do on Army time?”
Wel, my tamboermajoor, Andries Viljoen (Gabba, wat later vir Transvaal rugby gespeel het), het toe gewen, my baby is 13 dae later gebore op maat van “Thunderer, Reveille”, Sammajoor Bennet het drie maande daarna nog gelag as hy my sien en Oom Toffynose het sy pose gehou en gemaak asof daar elke dag ʼn vroulike Kadetorkes Kapelmeester in nabye kraam oor sy pad kom. Ek het vir 17 jaar lank nog kadetorkeste afgerig, en dit is so jammer dat vandag se leerders nie ook daardie voorreg van ʼn “marching band” het nie, vir trots en selfdissipline, die vreugde van musiekmaak en die lekkerte van orkeskampe. Ek het later ʼn weermagsinstrukteur vir trompet geword, en dit was lekker, maar die skoolorkeste – ai, wat ʼn wonderlke tyd!
Drommetjie, alias Mister Hanekom, wat amok maak op Army time!



Kommentaar
Klaar gereageer!