Bokomo-brekfisbrief; 10/04/09: 'n Anderster Paasfees-storie

  • 0

 

 

Ou JP was behoorlik stinkryk na hy die Lotto gewen het. Hy en sy vrou Cynthia het in 'n paleis van 'n plek ingetrek. Hul enigste geselskap was Patches, hulle brakkie. Dié was so bedorwe dat sy pote nie aan grond of gras geraak nie. Een van die drie nuwe Mercs is spesiaal beskikbaar gestel vir die brak se daaglikse rit om die blok.

Vroeër was JP 'n volslae alkoholis, maar toe sy gesondheid te erg daaronder ly, het hy opgehou. Dit was nou wel 'n bietjie laat in die dag daarvoor, maar daar sou nooit ooit weer 'n druppel drank oor sy lippe gaan nie. Hy wou sy rykdom ten volle en in goeie gesondheid geniet.

Met sy nuutgevonde nugterheid duik 'n ander ou probleem toe weer op. Sy hormone - en sy lus vir sappiger weivelde - het eens so erg gepla. Dis tóé dat hy Cynthia begin cane voer, eers bietjies-bietjies in haar koffie, totdat sý later toetentaal daarvan afhanklik was. So het haar wêreld van reise oorsee gekrimp tot by die sitkamer se leerstoel wat sy met Patches gedeel het. Sy was die meeste van die tyd te koekoes van die drank om te besef wat om haar aangaan.

Ou JP kon nou sy plan in werking stel. Hy't op die een luukse bootvaart na die ander met sy ‘meisies'" kerjakker. Weens sy swak hart kon hy nie juis veel met hulle uitgerig kry nie, maar hy't hulle betaal om hom geselskap te hou. Solank sy medepassasiers hom kon beny, was hy mos grootmeneer.

Met sy laaste fling verlede April, kry hy 'n massiewe hartaanval en is reguit van die hawe af hospitaal toe. Die dokters het hom laat verstaan dat die einde naby was. Hy't homself ontslaan en 'n taxi gekry om hom huis toe te neem.

Die oggend van Goeie Vrydag het die bediendes hom uit die motor en teen die trappe op tot in sy slaapkamer gesleep-dra. Cynthia het op haar stoel bly sit. JP is vroeg daardie selfde middag oorlede.

Terwyl die begrafnisondernemers besig was om sy lyk by die voordeur uit te stoot, het Cynthia met 'n kekkellaggie gesê hy kan maar lekker saam met die meisies gaan feesvier, sy gee nie 'n hel om nie.

Net Patches het getjank.

Ellen Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top