Sondagmiddag so skuins na my eerste koppie koffie vir die dag. Ek sit en dink aan my lewe so jaar of wat gelede. Ek het nog altyd geglo aan Lewens-wiele-wat-draai en sewe vet jare wat na sewe maer jare volg.
Ek het altyd gewonder hoekom is dit so vervlaks moeilik om te luister en te leer? Te midde van daardie moeilike (ekonomiese) tye, kospryse wat (vir my) ten hemele uitgeklim het, rande wat definitief nie meer kan koop wat dit die vorige dag betaal het nie, het Kaalvoet Jasmyn probeer om ‘n Berg uit te klim. Immers altyd met die wete dat daar iewers lig en hoop moet wees. Daaraan het ek geklou en verbete vasgehou terwyl ek ‘n stywe begroting uitgewerk het. STYF. Rieme sny, kar verruil, ys kou, besittings verminder en belt intrek styf.
Nou het ek R8 000-00 per maand om mee inkopies vir hierdie gesin van 2 te gaan doen. Dit sluit alles in. Medisyne, vitamienaanvullings, mooimaak produkte, skoonmaak produkte, klere, brood (hiermee verwys ek na vleis en so voorts) en melk, skryfbehoeftes, geskenke. En 'n hele R500-00 per maand ekstra in my beursie uitsluitlik vir kwaliteit koffie natuurlik. Aha, dis nie te min vir Kaalvoet Jasmyn wat soms die kuns moes bemeester om met net die leer in die binnekant van haar beursie te oorleef nie! 🙂
Dankie vir WIELE wat DRAAI. Nou maak ek baie seker van my lysie, begroot bedrae nav vorige aankope en trek net genoeg kontant om hierdie lysie te kan koop. Kontant? Hoor ek jou vra. Ja, KONTANT! Ek het lank reeds soos enige amateur rentmeester geleer dat koop nie kaart-maklik is nie, dat geld minder word met elke aankoop en nie net ‘n deurtrek van ‘n kaart behels nie. En veral, dat elke aankoop ‘n effek het op elke stuk beplanning en droom!
Dus vaar ek gereeld die Jakarandastad se verskeidenheid winkels binne, lysie in die hand. Jô-jô, dis ‘n riller! Dis uitwerk en kophou, dis dink en weer dink, dis op my spore terugloop na die goedkoper of duurder item op ‘n ander winkelrak. Want daar is steeds net ‘n x-bedrag in die beurs.
Onder andere is daar op my lys ‘n item: Bv Vrugte - begroot R100-00. Dit is nie die algemene appels, piesangs en pere nie - dié is apart voor begroot - hierdie is bedoel vir ‘n lekkerte. Iets soos mango's, kersies, bloubessies, raspberries en Go-ji berries! So vind ek my eie unieke manier om so ietsie in te werk. Natuurlik steeds dankbaar vir die ekstra toelae vir 'n daaglikse beker fynproewers koffie (wat een of ander vriendelike kelnerin vir my aangedra het by 'n uitsoek koffiestop van my keuse!)
Diegene wat my intiem ken sal vir jou verduidelik dis vir my die grootste straf in die lewe om 'n dag af te sluit sonder my koffie oomblik! Ek sal nog maklik tannie Essie Honniball se vrugte-pad kan loop - met vleis by natuurlik! 🙂
Na elke inkopie uitstappie ry ek dan met 'n dankbare hart terug huis toe. God het weereens mildelik voorsien. Dan sak seëninge soos strome reën oor my (wange) uit. En in my hart weet ek my finansies het so uitgewerk dat ek my lysie kon volkoop en boonop met ‘n R50-00 of meer kon terugkom (ja, en ek het my koffie oomblik ook ingepas!)
Hoeveel groter swel hierdie dankbaarheid toe ek nou die dag die kombuis binne stap en op die tafel staan twee boksies Canon drukker ink! Swart en Kleur. Ek noem dit liefde, briljante korttermyn geheue en gehoorsaamheid van 'n Bruidegom. Is God nie groot nie? Is Sy genade nie meer as wat ek ooit voor kan vra nie? Nou sal ek nog meer hê, want dis te veel vir net so bêre. Nou moet daar geskryf word. Briewe of skryfstukke gebore word. Iets met die ink gedoen word. Enige voorstelle? O, ja! Ek moet nog die Bruilof se spyskaarte ontwerp!
Buiten die bewys aan my en jou dat die WIEL van die LEWE voortdurend bly draai, is daar 'n groot leer om te begin om Mattheus 6:25-34 toe te pas. Want die ondervinding leer dat God wel voorsien. Ons probleem is dat ons nie net brood wil hê nie. Wat ook al die oorsaak daarvan is. Navorsing het wel bewys dat die media veel daarmee te doen het. Behoeftes word kunsmatig geskep. As ons egter terugkeer na die basiese Godgegewe behoeftes, dan behels dit bloot kos (brood soos die Woord verwys) en klere (nie noodwendig nuut of Woollies nie), ‘n dak oor ons kop (nie ‘n mansion wat onbetaalbaar duur is nie) en ‘n genoot vir die lewe ("Want na jou man sal jy hunker" en "dis nie goed dat die mens alleen is nie.)
Hoor net weer wat staan in Mattheus geskrywe: "Moenie julle kwel oor jul lewe - wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam - wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?" "Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het."
In kort Jasmyntaal gestel: Al wat dit vra is: Hey, GLO DIT NET!! En Pas dit dan toe.
Hoe sal ek dan bid? Iets soos: "Here, hier is ek. Opnuut gebroke voor U Woord, want ek kwel my dikwels ... Vergeef my Vader en leer my om op U alleen te vertrou, nie op my eie vermoë of my eie beplanning en idees nie. Net op U ..."
XXX
Kaalvoet Jasmyn


