Ek koel Saterdag onder my buitestort af en skielik spring die woord "ohopoho!" in my kop.
'n Hele paar jaar gelede was daar 'n interessante briefwisseling in Beeld oor dié woord. Soos ek dit kan onthou, het 'n ouer aan die koerant geskryf en gesê sy matriekkind is in 'n Afrikaans-vraestel gevra wat "ohopoho" beteken. (Kinders was daardie jare nog Afrikaans magtig.) Verskeie briefskrywers het laat weet dis 'n plek in die noorde van Namibië, ook bekend as Opuwo/Opuwe.
Maar wat betéken dit? Toe kom die antwoord: dis 'n sametrekking van "O hou poephol hou". Blykbaar was dit 'n algemene smeekbede of uitroep op die sinkplaatpad na Opuwo.
"Ohopoho" is 'n woord wat 'n mens baie veelsydig kan gebruik. Tussen sy lagbuie oor die volkstaat deur kan Johrné dit uitkraai: "Ohopoho!" Krokodil kan haar skubbe skud, haar stert in die lug swiep en vertoorn lostrek: "Ohopoho!" Siener kan in sy kristalbal tuur en geheimsinnig mompel: "Ohopoho ..."
Dan Roodt dink in sy enigheid oor die algehele konsternasie en verontrusting wat oor sy brief losgebars het: "Ohopoeho." ("O hou poepholle hou.")
As variasie op die tema kan Fransoois daar van oorkant die water af skree: "Ojupo!" ("O julle poepholle!")
Die situasies waarin 'n mens "ohopoho" kan inspan, is eindeloos. Wanneer jy onder 'n koue stort inspring. Wanneer jy jou belastingopgawe (of enige vorm) invul. Wanneer 'n beeldskone man (of vrou) in jou belang stel. Wanneer jy agterkom jy's besig om dronk te word in 'n situasie waar dit nie gewens is nie. Wanneer jy jou vyftigste brief van die dag redigeer en mense stééds nie weet hoe en waar om punte en kommas te gebruik nie.
Ek het "Ohopoho" gewebspoor en gesien Kobus de Klerk het op 24 Oktober 2005 'n brief van ene Ohopoho beantwoord. Ek wonder of Kobus bewus daarvan was dat die man eintlik erg krities teenoor hom was.
Ek sien daar's 'n Ohopoho "Online dating & personals service dating site". Ek wou vasstel of dié diens net vir manlike gays is, maar die blad wou nie oopmaak nie.
Jelleke Wierenga


