Bokomo-brekfisbrief; 10/02/2011: Die boom se naam is ...

  • 0

Die winde van verandering het die saad opgetel en daarmee gespeel. Dit het uiteindelik die saad gelos en dit het in vrugbare aarde wortel geskiet.

Die saailing was tenger en het baie ontberings oorleef maar dit het uitgehou en aangehou en het mettertyd tot ’n reus gegroei. Dit is vertroetel en versorg deur die mense van die kontrei en vandag staan dit trots en onbeskaamd. Dit is ’n baken en ’n lewende monument vir dit wat vooruit gegaan het.

Die stam is groot en bonkig en sterk, sterk genoeg om alles te kan oorleef. Die wortels het diep geskiet in die vrugbare teelaarde en staan sterk teen enige aanslae. Die takke groei geil na weerskante en is nie altyd eweredig en gelyk nie. Party neig na links en ander na regs en daar is ook takke wat sommer hulle eie rigting inslaan. En dan praat ons nie eers van die lawwe loteling wat sommerso hul eie koers kies.

En die boom hou aan met groei ...

Die boom is gewild juis omdat dit nie net ’n tuiste bied nie maar almal van die hoogmoediges tot die nederigstes vind baat daarby. Dit bied geselsplek, stryplek, vryplek, bakleiplek, stilte, rusplek, bidplek en plek om te mediteer. Planne word beraam, komplotte word gesmee en trane word gestort. Soentjies word uitgedeel en die vele glimlaggies is soos sterre in die hemelruim.

Grootmense dig en skryf stories, berigte, liedjies en dra die geskiedenis van die volk oor aan die kinders wat baljaar in sy skaduwee.

Dit wek heimwee en verlange by die wat in vêraf plekke woon. Al het hierdie gekies om land uit te trek, is daar so ’n diepgeborge hartseer wat nie weggesalf kan word nie

En die boom hou aan met groei ...

Party wou graag gehad het die boom moet meer regop groei en uitreik na die sterre en ander is heel te vrede met die huidige stand. Party wil graag die takke snoei en ander wil dit los om hul eie gang te gaan maar die boom laat hom nie voorskryf nie.

Dan is daar party wat graag die boom met wortel en tak wil uitroei maar dit gaan nie gebeur nie. Nie vandag nie en ook nie more nie. Die lied van die boom, die invloed van die boom en die passie vir die boom is diep ingewortel in die mens se psige.

Die boom is ’n belangrike skakel tussen gister en vandag.

Die boom se naam is ... Afrikaans

Lavinia

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top