Bokomo-brekfisbrief; 09/10/09: Oester se groenvyejam

  • 0

Oor jou jam. Praat jy van die heelvyekonfyt wat van die "voorvye" gemaak word? Nie die pap vyejam nie?

Jere bra, as dit heelvye is kan ek nie 'n botteltjie of twee by jou koop nie? Dis mos nie meer 'n ding wat mens sommer te koop kry nie. En as jy dit kry is dit hopelooslik over priced en kan jy sommer proe dis nie met omgee gemaak nie. My oorlede ouma het langs haar pakkamer op die plaas in die Swartland 'n besonder vrugbare vyeboom gehad. Daai rooi vye. Elke jaar het sy met koms van die voorvye potte en potte van die heelvyekonfyt gemaak. Pynlik deur die kalkwater geweek en al. Ouma het die depressie in die 30's oorleef. Dit het vermoedelik daartoe bygedra dat haar kombuiskas altyd oorvol was met proviand. Niks is vermors nie. Die suurlemoene is in bottels suurlemoenstroop omskep, die vye in groenvyekonfyt en die gewone vyekonfyt. Bottels vol. Destyds het ek by tye gatvol geraak vir die groenvye. Vandag huil ek oor daai vye wat ek nie toe in die tye van oorvloed geëet het nie. Vandag is Ouma dood, my nefie wat nou boer het die donnerse vyeboom afgesaag want jy kry mos nie meer regte boervroue nie, so die ding het net staan en mors ... Vandag se boervroue ry mos met die double cab dorp toe.

Ek kan vir dae aangaan oor my ouma se kombuis. Bokkoms in die oond gebak met soetsuurdeugbrood, sulke katkoppe met regte plaasbotter op (of uitgebraaide varkvet met sout en peper), saam met een van die konfyte en swart moerkoffie wat met brakwater gemaak is ... droëwors en boerbeskuit, gemaak met genoeg sout en regte botter, swart brakwater moerkoffie en 'n stuk soetmelkkaas vir ontbyt ... jere, kry mens nog soetmelk?

Jisses, hoe verlang ek nou na Ouma ...

Neil Kroese

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top