Bokomo-brekfisbrief; 09/08/08: Coke, bunny chow en township-krieket

  • 0

Noudat ek so bietjie krieket kyk op TV tussen SA en ENG, dink ek terug aan een van my eerste wedstryde as kaptein.

So ʼn paar jaar terug het ons ʼn Sondagligawedstryd gespeel op die Alexandra Ovaal naby Sandton. Die wedstryd was ʼn gelykop maar stadige affêre (ʼn enkele ses op die klubhuisdak was maar die hoogtepunt). Etenstyd was ook op daardie dag ʼn “sorg-vir-jouself” affêre, aangesien daar geen kos verskaf was nie. Toe stel Cameron, ons openingskolwer en paaltjiewagter, voor dat ons ʼn eetplek moet gaan soek en kos daar moet kry. So gesê, so gedaan. Al 11 van ons is toe met twee motorvoertuie die strate van Alex in op soek na iets om die hongerpyne stop te sit. Gelukkig het ons so drie blokke weg van die veld ʼn kafee ontdek. In die kafee is die gewone chips, chocolates en Coke, maar op die bord bo die betaalpunt is ook goed soos fish and chips, worsbroodjies en ook bunny chow …

Ou Cameron, ʼn groterige kleuringman, meen toe ons moet ʼn bunny chow vir elkeen koop. Na so vyf minute van debatvoering tussen mekaar het ons besluit dis reg. Ek en Ian sal betaal, want dis nou darem nie te duur nie en dit lyk nogals vullend.

By die veld gekom en boonop knuppeldik gevreet en gedrink aan lekker bunny chows en Coke, was dit nou ons beurt om veldwerk te doen en Alexandra vir so min as moontlik uit te haal. Ons het net 140 aangeteken. So ʼn paar boulbeurte in die middag in het ek en Ian in die glippe opgemerk dat drie van die spelers, Masake en Phakamile en hy, se magies effe broos begin voel. Dadelik het ek ook my bedenkinge oor ons middagete begin kry. Cameron, wat na die gesprek tussen my en Ian geluister het, haak toe af: “Ney, my gazzie, daai bunny chow het hom K9 meat in.”

Ek dag ek bekots myself net daar!!!!

Nietemin het Ian in sy volgende paar beurte demonies geboul en die top- en middelorde van ons opponente geknak. Die uiteinde was ʼn oorwinning met 10 lopies vir ons.

Groete,

Benna

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top