Daar is natuurlik ook anner soort "liefdes" wat mens liefs wil vergeet. Die soort wat jou lank laat wonder en lank na die wonder laat wonder: Wat de hel het jou besiel?
Haar naam was 'n pêrel. Sagblonde hare wat so windgat in die wind gewapper het. En sy kon net op die regte manier met daai paar lieflike hanne van haar die fyn haartjies uit die oë uitvee. Nie dat dit nodig was nie, want daai kapsel was mos op 'n windgat manier gekap.
Hel sy was mooi! Ja, ja ek weet, ek weet. Maar sy het al haar groentetjies kleintyd mooi opgeëet en, wel kom ons los dit vir eers daar.
Wat ek wel weet is dat sy die mooiste naeltjie gehad het wat ek ooit aan 'n hemelwese gesien het. En dit is reeds te veel detail, is dit nie? Ag, te hel daarmee: Sy het hier agter haar knie so 'n klein, klein vlekkie gehad, amper soos 'n geboortemerkie. Herre, hier gaan ek al weer!
Ek onthou die ontmoeting: Sy het beduie dat die stal se deur oop is en jy weet mos hoe mens koes en probeer toemaak bloot om te vind die deur is toe nie oop nie. En so is ons vort na een of anner plek toe met my wat vra oor staldeure en hingste en goete. Niks snaaks nie, net loop kyk hoe ander mense dans, want ekke is gebore met twee linkervoete en hou nie van hierdie sokkie tipe snert waar mense bloot rondloop in sirkels nie.
Volgende middag het die "brass band" gespeel. Want sien, synde my werk mos maar op die strande is wou ek mos vir haar al die mooi strande loop wys. En is daar op hierdie aarde mooier strande as sommer hier naby my in Oesterland? Wel, sure, Griekeland kom naby, nè ... ? Mmmmmm, naaaaaaaa! Nie regtig nie, hehehehehe. Ek onthou dit was winter. Hoe? Wel, sy was nie in die grondboontjie smokkelbedryf nie ...
Kort na die grot het sy van haar bostuk ontslae geraak en toe was die bewys inderdaad daar dat, as winter nie op hande is nie, dit in aantog is. Sy het letterlik punt innie wind gestaan en dit wassie peanuts nie. En wel, die res is nie vir hierdie forum bedoel nie ...
So verander die dae in weke en mens begin wonder: Hoekom wil hierdie klein Pêreltjie net verken? Tot die dag wat ek hoeka met daai rooi Kombi voor die huis stop en sy half onwillig die deur oopmaak. Ek onthou die vryery was nie wat dit moes wees nie. Dit het gelyk asof sy bang was vir iets. Sy het iets beduie van grimering of iets en so is ek agterna om vir Ta rustig aan die slaap op die kooi te vind. En vir Ta het ek goed geken maar nooit geweet dat hy soort van deurmekaar was met einste Pêreltjie nie.
Sy het iets beduie van verward en onseker en ander goete na ek die Kombi in rat gesit het en die volgende oggend toe kom sit sy rooi ogies en wonder oor vergifnis en goete en toe die kersie oppie koek: "Het jy vir my 10K sodat ek bietjie kan wegkom na my ma toe? Ek bel jou sodra ek daar aankom" (Dit was die dae lank voor selfone en sms’e). Daai 10K was geld baie goed gespandeer, want tot vandag toe het ek nooit weer van haar gehoor nie, al wonder ek soms of sy nog ok is. Ta op die bed? Ek sien hom gereeld en dan maak ons 'n lange, want hy het 'n effens groter tjekkie uitgeskryf. Ons lag dikwels oor ons skoolgeld.
Glentana se strande is steeds van die mooiste strande op aarde en ek snak letterlik elke keer na my asem en wil soms neig om gelowig te raak as ek om die eerste rotse stap en die Wonderskoonheid van hierdie klein stukkie van my Wonderland aanskou, maar ek sallie weer 'n kleine Pêreltjie soontoe vat nie.
Dit sal net nie dieselle wesie.
Ek en my geliefde dok T wonder nou die dag oor daai kleine Pêreltjie en toe weet ek terwyl ons so wonder: Jip, mens bly mens en ek glo ek sal weer, anders as 'n donkie, in presies dieselfde gat trap. Eendag as ek baie in het dan vertel ekke vir jou van daai grotte by Glentana, hehehehehe.
Dankie. En groete uit Oesterland,
oester


