Bokomo-brekfisbrief; 09/07/08: Coke, brood en polonie

  • 0

In die 1980’s het ek vir ʼn paar jaar skoolgehou by ʼn Kleurlingskool in die Vrystaat. Dit was ʼn nuwe skool met pragtige skoolgeboue, maar niks anders nie. Dit was in ʼn baie arm woongebied en daar was geen ontspanningsfasiliteite vir die leerlinge nie. Hulle enigste ontspanning was seks en drank. Dit het dan ook dikwels gebeur dat die meisies swanger raak en skool moes verlaat. Dikwels was dit een van die presteerders en dan moes sy haar opvoeding staak – anders as by die topstadskool waar ek nou is en die meisies met hulle swanger magies skool toe kom en kom brag met hulle sonarfoto’s.

Ons het baie moeite gedoen om vir die leerlinge so veel as moontlik geleenthede te gee. My man het gereël vir ʼn stootskraper om die veld gelyk te skraap en ʼn atletiekveld aan te lê, sodat ons huissport(s) kon hou. Daar is ook rugby op die veld gespeel. Een van my kollegas het ʼn revue-groep begin en die meisies het netbal op die betonvierkant gespeel. As die leerlinge rustig was kon ons skoolhou en vorder, maar as hulle oproerig geraak het, was dit maar rof. Al die seuns het met hulle belde los geloop – as daar die geringste provokasie was, het hulle belde afgepluk en baklei. Dikwels is die messe ook uitgepluk. Wat vir my moeilik was om te verstaan was dat, sodra die moeilikheid begin het, dit die voorbeeldigste leerling van jou klas was wat die voorbok by die oproerigheid was. Dikwels, as hulle begin moeilikheid maak het, het hulle ons onderwysers in ons klasse toegesluit. Dit was ‘scary’ maar ten minste was ons veilig. Eers wanneer die polisie die hele skool omring het is die orde weer herstel en kon ons huis toe gaan om die volgende dag maar weer terug te kom en aan te gaan met skoolhou.

Ek was waarnemende departementshoof van Wiskunde. Nogal indrukwekkend, veral as jy in gedagte hou dat ek op daardie stadium nog nooit Matriek Wiskunde gegee het nie. Ek was die enigste een om vir standerd 8, 9 en 10 Wiskunde te gee. Elke eksamen moes ek 12 vraestelle opstel: Algebra en Meetkunde – Hoërgraad en Standaardgraad – vir elke klas. Ek het my besimpeld gewerk. Die Wiskunde-inspekteur van die Dept Onderwys en Kultuur, waaronder die kleurlingskole ingedeel was, het my vraestelle gemodereer en raad gegee en ek is hom ewig dankbaar.

Ek wou bitter graag hê dat my matriekklas goed presteer sodat hulle uit die arm omgewing kon ontsnap en ʼn beter lewe kon hê as hulle ouers wat ook dikwels half getrek voor hulle huisies rondgesit het. Ek het ʼn sakrekenaar vir elk geskenk gekry en stel toe voor dat hulle elke Vrydag na skool bly om saam met my ou vraestelle deur te werk. Toe hulle beswaar maak dat hulle te honger is, het ek hulle belowe dat ek vir hulle witbrood, Coke en polonie sal bring.

Elke Vrydag het ek drie witbrode, drie 2-liters Coke en twee groot polonies gekoop. Elke Vrydag was elke matriek daar.

Hulle uitslae was toe redelik goed, met ʼn paar onderskeidings ook.

Aan die begin van die nuwe jaar roep die hoof my kantoor toe, die hoofinspekteur wil met my praat. Hy vra my toe: “Juffrou, jou slaagsyfer is amper 80% vir jou matrieks, hoe het jy dit reggekry?” Die verbasing op sy gesig was maar groot toe ek sê: “Brood, Coke en polonie, meneer!”

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top