Bokomo-brekfisbrief; 09/05/09: Moedersdag

  • 0

 

 

Ek wil nie oor my eie Ma skryf nie, want dan gaan ek net spog en sy het my altyd geleer dis verkeerd om te spog.

Oor myself kan ek nie skryf nie, want ek is nie 'n Ma nie en wat is daar dus dan te sê?

Daarom het ek geen keuse as om dan maar oor ander Ma's te skryf nie, want ek wonder soms waarom hulle die reg gehad het om 'n Ma te mag gewees het. Ek wil weet hoekom mag jy vir Andrien* gehad het as jy toelaat dat sy in die oggend 5 km moet skool toe loop omdat sy nie busgeld het nie. As jy weet sy is verstrooid en verloor soms haar maand se buskaartjies, hoekom neem jy dit nie in ag dat sy maar 14 is en nog maar eintlik klein nie?

As jy weet jy het 'n blonde, hoekom gee jy nie elke oggend haar buskaartjies vir haar en maak seker dat sy veilig is nie?

En jy, Ma van Rachelle*, hoekom mag jy Ma genoem word as jy toelaat dat jou dogter in die oggend moet skool toe gaan in somersklere as dit reeds so koud is en al die ander kinders lankal warm aangetrek is? Hoekom mag jy Ma genoem word as jy elke naweek saam met jou vriende drink en jou dogter verskonings moet uitdink waarom sy nog nie haar wintersklere vir die skool kon gaan koop nie? Wat, Mamma, moet ek vir daardie 15-jarige dogter van jou, wat mooier as 'n mens is, sê as sy styf teen my kom sit in die oggend met haar arms om my omdat sy koud kry en nog nie geëet het nie? En wat moet ek vir haar sê as sy saggies vir my sê dat haar Ma nooit gisteraand huis toe gekom het nie en dat sy alweer heel aand alleen was.

Dan, jy, Corinne* se Ma, hoe troos ek jou kind as sy in die oggend by die busstop met haar kop teen my skouer so hard huil dat sy nie vir my kan vertel wat verkeerd is nie? Weet jy, Ma van Corinne, hoe bly ek is dat sy nie vir my kan vertel wat dit is wat eintlik verkeerd is nie?

Want ek dink ek weet. En jy, Ma van Corinne, weet jy hoe haat ek jou as ek in daardie magtelose blou oë van haar kyk en daar is niks wat ek kan doen nie? Want ek is nie haar Ma nie. Maar, Ma van Corinne, ek sê nou vir jou, as sy myne was, sou ek my lewe gee om te sorg dat daardie uitdrukking in haar oë nooit moes gewees het nie.

Maya

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top