Bokomo-brekfisbrief; 09/05/08: Help!!!!!! Ek is ʼn LitNet-verslaafde!

  • 0

Meltie Smeltie-innie-montie,

Ek het jou raad nodig!

Laat ek by die begin begin. ʼn Rukkie terug (OK, lank terug) het my man rekenaarspeletjies ontdek, strategiese speletjies wat jou brein stimuleer en “baie goed is vir jou.”

Dis ontspannend, hy wil tog ook bietjie wegkom van die stres en alles. Eers so ʼn uurtjie of wat. Toe die hele aand, toe die hele naweek en toe elke dag. Ek, wat nou nie wil neul nie, want ʼn neulende vrou is “soos ʼn druppende kraan” skryf toe vir hom ʼn mooi briefie met 20 redes waarom ek dink die rekenaarspeletjies nie eintlik so goed is vir hom en vir ons huwelik nie. Hy, wat nog altyd so liefdevolle man is, besef toe wat te erg is, is te erg en verminder toe die tyd voor die rekenaar. Vrede in die huis.

Toe ontdek ek LitNet. Eers net so ʼn uurtjie om al die briewe te lees. Die eerste uitgawe word ingewag, die werk word neergesit, net gou bietjie lees. Later in die dag ongeduldig oor die tweede uitgawe later en later opkom. Toe begin ek ook bietjie my opinie gee, met so twee vingers aan die tik (koördinasie was nog nooit my sterk punt nie). Dit vat bietjie lank.

Ek ontdek al die resensies, artikels en wat nog. Ek kry nie meer tyd vir boeke nie. Ek wil nie meer weeksaande uitgaan nie.

Boonop is daar nou die Bokomo-brekfisbrief. Nou begin ek al in die oggend. Dis soos ʼn klein fix om my net deur die oggend te kry.

My man dink glad nie dis goed vir ons huwelik nie.

O gaats, hier kom hy: “Ek weet nie of jy nog bed toe kom nie, ek dink hierdie is belaglik!”

Melt, dink jy ek is verslaaf?

Vega

(Nee, Vega, nee. Jy is ver van verslaaf af. Om die waarheid te sê, jy is op die regte pad. As dit nodig is, raak ontslae van jou wederhelf ... moet net nie ophou LitNetteer nie!!!! – Melt Myburgh)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top