Vanaand dink ek aan oumenskontrepsies soos stil-stil deur oupa aan my vertel op my sestiende verjaarsdag. Die dag wat 'n seun veronderstel is om 'n man te word - dink ek tot vandag toe.
Oupa het my eenkant onder die moerbeiboom geneem, sy pyp opgesteek en so tussen die rookwolke, sodat ek nie sy oë kon sien, gevra wat weet ek nou eintlik van die dinge tussen 'n man en vrou.
"Nie baie", het ek skaam geantwoord. Alhoewel my skoolmaats my gewaarsku het oor hierdie tipe gesprek op sestien, baie van hulle was ouer as ek, was dit steeds 'n skok om oupa oor hierdie fynere dinge van saamwees te hoor praat.
"Ek gaan nie baie praat", en weer die rookwolke om sy gesig. "Al wat ek jou gaan vertel is oor 'n voorbehoedmiddel wat werk. Die oumense het dit gebruik, ek het dit gebruik en ek hoop jy sal dit ook gebruik." Terwyl hy weereens verwoed aan sy pyp suig.
"Ja oupa?"
"Ons noem dit die kassie-piering, baie eenvoudiger en baie meer effektief as hierdie moderne rubber goeters wat jy jou alie mee afsukkel terwyl die stoom by jou ore uitblaas van opgewondenheid", suig-suig aan die pyp en 'n rookwolk wat weer vinnig die lug in verdwyn.
"Die ding werk so", en toe borrel die rook behoorlik om sy gesig , "wanneer die ding nou gebeur, die ding tussen man en vrou, moet jy altyd sorg dat daar 'n tamatiekissie byderhand is. Jy verstaan?", en voor ek kon antwoord of vrae vra het hy vinnig sy vorige sin klaar ingesluk en met die volgende begin.
"Jy gaat staan op die kissie en sy voor jou. Wanneer dinge nou baie besig raak moet sy jou elke oomblik in die oë kyk, dis belangrik. Nou kom die ding, sodra jou oë so groot soos pierings raak dan skop sy die kissie onner jou voete uit en dis klaar. Verstaan jy?" en voor ek weer kon antwoord was hy reeds op pad huis toe, gehul in 'n rookwolk. En ek wou nog vra: wat daarvan as die meisie korter as jy was, moes die kissie-piering dan na haar kant toe?
Vandag verstaan ek beter: Van 'n laatlammetjie-pa gebore gedurende die Tweede Wêreldoorlog, van hout wat skaars vas, en tamaties in papiersakke verpak.
Swerwer


