Bokomo-brekfisbrief; 09/04/09: Dominee, dit het so onskuldig begin ... ek wou net gou loer ...

  • 0

 

 

EK: Moenie! Asseblief, moenie!

EK: Man, ek wil net gou kyk!

EK: Asseblief! Jy weet wat gaan gebeur!

EK: Man, net vinnig loer, ek belowe jou!

EK: Jy gaan weer by niks uitkom nie ...

EK: Net vinnig ...

EK: Ja, wel, ek ken daai vinnig ... Wat het jy gister gedoen?

EK: Wel ...

EK: ʼn Uur gewerk, en die res van die dag gemors!

EK: Wel, dis nie mors nie. Ek móét eenvoudig my taal en my volk red! En jy weet, dis vingeroefeninge vir skryf ...

EK: Watter skryf ...?

EK: Wel ...

EK: Wanneer gaan jy daai stories klaarskryf? Die kompetisie sluit oor drie weke ... Jy gaan nooit weer die geleentheid kry nie ... Jy's die grootste probleem in jou eie lewe ... stop alewig jou eie gat toe ... en huil dan jy as jy nêrens kom nie ...

EK: Laat ek net gou loer ...

EK: En jy's so diep in die moeilikheid jy kan maar net sowel wegloop ...

EK: Wel, hoekom ef JY nie net weg nie ...

EK: Daai manuskrip wat Sakkie al twee maande terug vir jou gebring het. Het jy hom al oopgemaak? Hoe lank belowe jy hom nie al ...

EK: Los my net uit!

EK: Dis seker hy wat gister en eergister en eereergister gebel het. Jy kan nie aanmekaar NIE die foon antwoord nie ...

EK: Los my net u-u-u-i-i-t-t-t!!!

EK: Jy sal die een of ander tyd verantwoordelikheid moet aanvaar ...

EK: Laat ek net gou kyk. Ek belowe ... net vyf minute ...

EK: Ek is nou al so gatvol vir jou vyf minute! Hoekom moet EK in die moeilikheid beland oor JY jouself nie kan beheer nie?! Hoe ver is jy nou met die ander boek? Wanneer laas het jy vir die ou proewe gestuur? Wat dink hy van jou professionaliteit?

EK: Uugghhh!! Ek's ʼn totale, algehele mislukking, ek weet!!! Ek is onredbaar!!! Maar los my net uit ... ek wil net gou loer ...

EK: En wanneer gaan jy vir Mauveen bel? Die arme vrou is teen die vloer oor haar hond dood is, maar jy dink net altyd aan jouself! En wanneer gaan jy Buurvrou terugbel? Sy gister al 'n dringende boodskap gelos. En wanneer gaan jy jou e-pos beantwoord? Wanneer gaan jy jou rekeninge betaal? G'n wonder jy't nooit geld nie ... jy werk nooit nie! En wanneer gaan jy vir 'n slag weer die huis skoonmaak? Weet jy hoe lyk dit onder jou bed? En wanneer haal jy die wasgoed van die draad af? Hoe lank hang dit nou al daar? Wanneer gaan jy jou tande borsel? Wanneer laas was jy by die tandarts? En Kattebol ... kyk hoe verwaarloos lyk sy. Wanneer laas is sy geborsel? Wat gaan ander mense van jou dink as jou kat so lyk? En ...

EK: Los my net u-u-u-i-i-t-t-t!!!!!

EK: My senuwees kan dit nie meer hou nie. Hoekom moet ek met jou opgeskeep sit?

EK: Man, donner net weg!!! Ek wil net gou loer ...

EK: Ja, en môreoggend eenuur is jy klaar geloer ...

EK: Kyk wat skryf daai donnerse Kys al weer! Ek móét hom antwoord! Ek móét eenvoudig my taal en my volk red! Ha-ha, hoor wat skryf Jan Rap! Sê hom, sê hom! Kyk wat skryf hierdie arme sot nou weer ... Ha, ek weet wat ek hom gaan antwoord ... moet net gou paar goed gaan google ... ek gaan daai dofkop kap waar hy nie gekap wil wees nie ...

EK: Wel, ek was my hande van jou ... Gee jouself maar oor aan die ellende ... As ek net hier kon uitkom ...

EK: Ha, ditsem! Ag tog, kyk nou weer hierdie pretensieuse prul! Sjit, maar sy irriteer die sjits uit my uit ...

Wat gaan hier aan? Is ek versteurd? Is ek mal? En ek het nie medies nie! Geen versekering nie! Kan ek skadevergoeding van SêNet eis?

Ek het gesweer dit sal nooit met my gebeur nie! Hoe absoluut pateties moet jou lewe nie wees om aan só iets verslaaf te raak nie? Ek meen, het jy nie ʼn regte lewe nie? Ek meen, is sjokolade nie erg genoeg nie? Ek meen ... arggghhh ... is dit al twaalfuur?

Liewe Heretjie, he-l-l-l-p-p-p! Dominee, dit het eintlik so onskuldig begin ...

Jelleke Wierenga

NS: Hier sit ek nou al weer en skryf en ek moet nog my rekeninge gaan betaal en my tande borsel en vir Mauveen bel en vir Buurvrou bel en die kat kos gee en daai boeke doen en die stories klaar skryf en die tuin natmaak en die wasgoed afhaal ... He-l-l-l-p-p-p!!! Ek is ernstig!!! Hoekom bewe ek nou so ...? O, gisteraand laas sjokolade geëet ... Ja, wel, jy verdien dit om diabetes te kry ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top