Nou die dag blaas ʼn vriendin van my vreeslik stoom af oor haar man wat so ‘onbedagsaam' is. Ons tweetjies het knus in ʼn elegante koffiehuis ons café au laits geniet. Soos dit ʼn goeie vriendin betaam het ek meevoelend geluister terwyl sy haar hart uitgepraat het.
Nou moet ek vir julle een ding sê: Dis ʼn mooi vrou daai! Maar sy's nie net mooi nie, sy's nog slim en temperamenteel ook. Ek drink toe maar so ʼn slukkie koffie tussendeur terwyl die stroom woorde onverpoosd uit haar mond vloei en die storm van gebelgdheid homself uitwoed.
Toe ek tussendeur ook ʼn woordjie inkry, vra ek haar toe of sy eintlik die snaakse boeke van die egpaar Pease ken?
Nee, sê sy. Toe wy ek haar maar in.
Soms doen mans dinge wat ons vrouens as onbedagsaam of onhoflik sou beskou, maar mans bedoel dit eintlik glad nie so nie. Hulle breine werk net anders.
Ons breine het ewolusionêr anders ontwikkel as gevolg van verskillende take waarop mans en vrouens moes konsentreer. Vrouens se visie gaan amper verby hulle ore, want hulle het letterlik ‘oë agter hulle koppe nodig' om op kinders op te pas, terwyl mans wat vroeër moes jag vir die pot, se visie meer as ʼn soort van ‘tonnelvisie' ontwikkel het om te kon fokus op ʼn teiken. Dis hoekom mans ook nooit iets in ʼn yskas kan kry nie - al staan dit voor hulle neuse.
Die rede waarom feitlik 90% van die mense wat in kommunikasieverwante beroepe is (soos onderwysers) vrouens is, is omdat hulle breine geprogrammeer is vir kommunikasie. Mans se breine is geprogrammeer vir ‘problem solving'. As ʼn man dus aangaan om skroewe vas te draai, terwyl ons by die voordeur inwarrel en eintlik ʼn soentjie wil hê, is dit nie omdat hulle nie meer vir ons lief is nie. Hulle is bloot taak-georiënteerd. Don't despair!
So, volgende keer as julle ʼn afspraak het en jy hom by sy kantoor gaan haal vir middagete, en hy aanhou praat op sy selfoon en jou ignoreer, dink aan die taak-georiënteerde brein van manlief voor jy jou top blaas. Dit beteken natuurlik nie dat jy nie ook maar jou mismoedigheid te kenne mag gee nie. Mans kan immers nie gedagtes lees nie ...
Diegene wat graag meer daaroor wil uitvind, kan gerus uitkyk vir een van die volgende boeke:
Why Men Don't Have a Clue and Women Always Need More Shoes
Groetnis
Pouveer


