Hierdie is ’n ou storie met vele variasies.
Daar iewers in die Kgalagadi is daar ’n groep Boesmans. Vredeliewende spul. Hulle jag nou en dan ’n bokkie en grawe vir uintjies en so. Hol weg vir leeus. En vir volstruise as hulle die se eiers steel. Leef hulle kultuurlike lewe voluit en vreugdevol en in vrede met die natuur en die wind en die weer.
Die kindertjies aap die grootmense na en is te oulik. Die oues van dae gooi saans om die vuur wyshede rond en vertel stories wat hulle vaagweg onthou van hulle voorgeslagte. Die jonges spog dat hulle vinniger kan hol as ’n omgekrapte volstruismannetjie. Hulle dans en gesels en rook nou en dan so bietjie boom.
Daar kom gereeld mense van buite om na die stories te luister en dit op te skrywe. Navorsers. Van universiteite. Hulle neem die stories op band en vroetel met skootrekenaars en so. Neem foto’s ook. Veral van die dansery van die jonger meisies met die mooi tieties.
Soos enige ordentlike jagter-versamelaargroep betaam, het hulle ’n leier. Sy regte naam is so ’n klapgeluid met ’n suigklank gevolg met ’n proesgeluid. Almal noem hom Piet.
Die verskil is dat Piet, (Klap-suig-proes.) meer as half geleerd is. Hy was in sy jeug op skool. Op die dorp. 500 Klicks vandaan. Daarna swot hy onderwys aan die PU vir CHO. Daar het hy te doene gekry met selfone en diesulke dinge. So gee ’n welmenende antropoloog vir hom ’n Blackberry met ’n sonkraglaaier. Piet (Klap-suig-proes.) keer terug na sy wortels en met verloop van tyd word hy die leier van die groep. Piet nooi die universiteite en die geleerdes uit. Piet (Klap-suig-proes.) skep ’n blogblad en bemark vir ’n vale. Vir ’n paar duisend rand kan jy by hulle gaan staan en bly vir '’n week en jouselwers vind. Soort van aanklank vind by jou primitiewe self. Met die dat jy onder ’n grasafdakkie slaap en half kaalgat in die duine agter bokspore aanhol. Jy leef van uintjies en drink bokmis. Hulle deel nie hulle Boom met jou nie. Die groepie word welaf en vooruitstrewend.
Met die welvaart raak die pligte van die leier van so ’n groep nogal
gewigtig. Stresserig. Daar word baie van Piet (Klap-suig-proes.) verwag. Die leier vervul ’n menigte van pligte. Regter. Profeet. Siener. Rekenmeester. Bemarker. En Weerprofeet.
So wil die groepie van Piet (Klap-suig-proes.) weet hoe die komende winter daar gaan uitsien. Dom is hy nie. Stap teen die duin uit en bel die weerkantoor. Vra hoe koud die komende winter gaan wees.
"Koud" sê die weerman aan die stem aan die annerkant.
Piet (Klap-suig-proes.) vertel aan syse mense dat dit koud gaan wees. Hulle moet hout bymekaar maak. Op ’n hoop gooi. Die lot skarrel die wêreld vol en maak ’n goeie klompie hout bymekaar.
So bekyk hy die hoop en wonder of dit genoeg sal wees. Stap weer die duin uit en bel. "Hoe koud gaan ‘koud’ wees", vra hy. "Bitter koud" reken die weerman. "Bitter koud."
Piet (Klap-suig-proes.) reken hulle moet nog hout bymekaar maak. Dis nie genoeg nie. Die spul boesmans stroop feitlik die hele kontrei van drooghout. ’n Reuse hoop. Piet, (Klap-suig-proes.) gedagtig aan wat die weerman voorspel het, bel weer. "Hoe koud is bitterkoud", vra hy.
"Koud. Die koudste in menseheugenis!"
"O" reken Piet, (Klap-suig-proes.) ... "maar hoe weet julle dit?"
"Nee", sê die weerman, "ons het ’n satelliet. Die ding neem foto’s van die land en ons het agtergekom daar is ’n klomp Boesmans van die Kgalagadi wat hout bymekaar maak soos nog nooit tevore nie!"
HJ


