Ek verwonder my telkens aan die fenomenale produksievermoë van sommige SêNetters - hulle uit wie se vingers strome briewe daagliks vloei.
Dit kos my 'n goeie paar uur om 'n brief te skryf, want as subredakteur en redigeerder het ek die slegte gewoonte aangekweek om my skryfwerk verskeie male deur te lees om seker te maak dit lees vlot en is sonder spel-, taal- en feitefoute. Dan druk ek dit uit, lees dit op papier deur en bring die nodige korreksies op die rekenaarweergawe aan. Laasgenoemde proses staan as "proeflees" bekend en is 'n haas uitgestorwe gebruik van geletterdes.
Ek meen: het julle wat so baie skryf nie:
• 'n hond wat julle vir stappies neem nie? • 'n kat wat daarop aandring om vir lang tye liefderyk in die oë gestaar te word nie? • bolliepatrollie om te doen nie? • groen groeiende goed in die tuin wat getem moet word anders verswelg jy in 'n oerwoud nie? • onkruid wat oorneem nie? • luiperdbome met wie gepraat moet word nie? • malvas wat uitgeknip moet word nie? • 'n kar wat jou gewete só ry dat jy hom maar was nie? • 'n huis wat gedurig sy/haar behoefte aan sement en verf laat blyk nie? • 'n blyplek wat gereeld van stof-aanvalle bevry moet word nie? • skottelgoed wie se aanteelvermoë ten minste elke tweede dag kortgeknip moet word nie? • wasgoed wat smag na multi-aktiewe skuimbekragtigde Omo nie? • toilette wat verseg om te spoel nie? • verstopte riole wat ontstop moet word nie? • 'n lyf met onversadigbare omnivore drange en drifte nie? • opvoedkundige boeke om te lees nie?
Het julle nie:
• wolke waarna julle kyk nie? • 'n gedig om te skryf nie? • 'n joernaal om by te hou nie? • vrinne wat 'n behoefte het om die hart uit te stort nie? • vrinne wat hulp nodig het nie? • vrinne vir wie julle skryf nie? • 'n leeskring wat julle bywoon nie? • 'n ondersteuningsgroep nie? • slaaie om vir braaie te maak nie? • 'n radioprogram waarna julle graag luister nie? • 'n huil wat gehuil en 'n kussing wat gedonner moet word nie?
Hoef julle nie om den brode te ywer nie?
Julle wat so sonder ophou brief en baklei, ek stel voor julle:
• slaap vir 'n slag laat • leef een hele dag lank sonder 'n rekenaar • lê heeldag en lees aan 'n onopvoedkundige boek • bedek die voete op hierdie snikhete somersmiddae • kry 'n bietjie son en water op die lyf deur die tuin in jul verjaardagpakkies nat te spuit (die tuinloses kan hulself en die potplante op die balkon met die gieter afkoel). Indien laasgenoemde optrede kommentaar van omstanders uitlok, gedenk die woorde van Miguel Ruiz: "Moet niks persoonlik opneem nie."
Jelleke Wierenga


