(Ware verhaal na die selfmoord van my grootmaakseun in 1998.)
Rooikopkind, sproetneusseun, ek wou jou wragtig nie hê nie. Jy is sommer so op my afgedruk, maar ek het jou gevat omdat al die ander jou nog minder wou hê. Nie eers jou ma wou jou hê nie. Sy het jou sommer in die nag op straat uitgegooi en daar het hulle jou opgetel onder ‘n swart vullissak, toegeryp in die koue. Net ses jaar oud.
Nou lê jy hier voor my. Yskoud, marmerkoud, met goue hare en ‘n bleek, bleek vel. Het iemand ooit geweet hoe yl sproete uitstaan teen die vel van ‘n liggaam sonder lewe? Jy lê net so. Mense praat altyd van ‘n gelukkige uitdrukking op hul geliefdes se gelaat, ‘n effense glimlag. Troos hulle hulself? Ek sien net jou breë skouers, jou sterk nek met die goue ketting om en die goue kruisie in die kuiltjie van jou keel. Jou koperrooi wimpers lê oor die bleek wange met die sproete, wat jy altyd gehaat het, nou tot hulle volle prominensie. Geen glimlag, geen tekens van geluk, niks, net mooi niks, net die swartrooi gat by jou regterslaap. En ek steek my hand uit en lê dit teen jou yskoue gesig en sê totsiens in my gedagtes. Ek verbaas my dat al my trane weggedroog het.
Al sou ek wou, kan ek nie huil nie, maar die fisiese pyn in my bors is so sterk dat dit voel asof iemand my asemteue met ‘n respirator beheer. In-forseer, uit-forseer, pyn, pyn, pyn. Is dit hoekom ons dit hartseer noem?
Jy was nooit bloed van my bloed nie, maar jy het aan my vasgegroei, deel van my geword, my eie kind se broer geword. Dit is immers agtien jaar later. Vir die eerste keer sedert daardie dag dat jy soos ‘n weggooisak teen ‘n lamppaal teen my vasgewaai het, jou teen my vasgevly het uit die donker, winderige nag toe jou oom (toe my man) die voordeur oopgemaak het met jou by hom, vir die eerste keer in my lewe daarna, is ek weer vir jou kwaad, woedend. Jy kon my altyd oor alles bel. Hoekom nie hierdie keer nie? Wat het dit anders gemaak sodat ‘n koeël uit jou dienspistool al antwoord geword het?
Jou vol, ferm mond glimlag nie nou nie, die kreukeltjies om jou helderblou oë, versluier onder perkamentdun ooglede, lyk soos moeë mierpaadjies. Jy sal nooit weer ‘n nuwe ontvangsdame wat nog nie van jou weet, vang met jou snaakse humor.
"Dit is Hentiaan wat praat. Kan ek asseblief met my ma praat?'
"Wie is jou ma? Het jy die regte nommer?"
"Dr Du Plessis is my ma en ek is die optelkind."
Eendag, jare gelede, was hy huilerig bang om skool toe te gaan.
"Tannie, hulle sê ek is ‘n optelkind."
"Kan wees, maar optelgoed is hougoed, sê die een spreekwoord en die ander sê weer mens moenie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie. Mens tel tog net iets op wat jy werklik wil hê. Daarom het ek jou opgetel. Hulle ma's en pa's het hulle net gekry en nou moet hulle vat wat hulle kry, want hulle kan nie hulle gegewe perdjies in die bek kyk nie."
Jy het deur jou trane gelag en is dapper skool toe. Nooit weer was optelkind vir jou ‘n skelwoord gewees nie.
Nou lê jy hier in jou kort broekie en jy is weggooigoed. Die lewe, die lag, die hartseer en alles is uit jou uit en jy los my met alles wurgend, klemmend, pynlik.
Ek maak my oë so toe... toe... toe in stappe, soos blindings wat vashaak. Met my hand steeds op jou wang wil ek afskeid neem. Dan voel ek ‘n ligte hand oor myne, stomp vingers, ‘n ronde, breë palm, joune. Iewers, onverklaarbaar, raak jou gees en my gees vir ‘n oomblik aan mekaar. En vir die eerste keer na die halfeen-oproep verlede nag, vloei warm, bevrydende trane oor my wange.
Douwlina du Plessis


