Bokomo-brekfisbrief; 08/12/08: Nie wit, nie swart

  • 0

 

 

Soms in jou lewe ontmoet jy 'n persoon wat 'n ewige indruk op jou gemaak het. So 'n persoon was Steve Farrah, oudhoof van Coronationville Hoërskool in Johannesburg, en 'n gewese voorsitter van die nou ontbinde Transvaal Teachers' Association. Farrah was 'n tydgenoot van grotes in die onderwys, insluitend Franklin Sonn van die KPO en UTASA, Stanley Jacobs van die TAT en Austin Green-Thompson, 'n kolos in Natalse onderwyskringe.

Terwyl Sonn en die manne in die land gebly het en uitgehou het, het Farrah die land verlaat. As ek reg onthou, was dit Kanada toe in die laat sewentigs. Die Soweto-onluste het hom diep geraak en hy het verkies om pad te vat.

Hy, soos baie van sy tydgenote, was kwaliteit-onderwysers. Dié soort wat Suid-Afrika vandag nodig het. En indien die onderwysowerhede en Menseregtekommissie by hom sou hoor, sou hy waarskynlik hulle daarop gewys het dat ons onderwysstelsel op die afgrond is weens te veel regte vir leerlinge en onderwysers.

Groot was my verbasing om te sien dat die man, wat ek laas in die vroeë tagtigs gesien en na geluister het, 'n boek uitgebring het oor hoe apartheid die bruin gemeenskap veral in Johannesburg geraak het. Ná ek die resensie daarvan gelees het, het ek besluit ek soek die boek as Kersgeskenk. Dit sal insiggewend wees om te sien hoe hy gebeure van destyds vertolk het, en hoe hy vandag se sake beskou.

Die titel is insiggewend - Not black, not white.

Dit is hoe ek ook verskeie dae voel.

Yuri

NS: Ek het die resensie in The Sowetan gelees. En net om te toon hoe tye verander, is daar ook 'n lekker resensie van Nataniel se boek When I Was.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top