"Jan" was maar nog altyd 'n willewragtag. Hardekwas bliksem wat hom deur niks en niemand laat vertel nie. Dis nie dat hy so hard grootgeword het nie, dit het dalk, of so sê sy portuur, meer te doen met die feit dat hy die jongste van die 11 M klogoete was en basies die sagte kant van die swaarkry beleef het. Jy weet, die oudstes kom mos maar aan in die swaarste van die swaar tye en soos omstandighede soms verbeter word die jongste dikwels met 'n sagter hand bestuur, of behandel as jy wil. Jan se klogoete het letterlik hel gehad onder hom. Ek het mos al beduie van hoe hy al die wildste van die spul (appels wattie ver van die boom val nie soort van ding) se hanne wou afkap op einste kapblok wat nou hier in my kombuis staan.
Harde visserman, harde dobbelaar (daai is 'n anner storie), skelm jagter (ditto lang stories), hardekwas sommer oor die algemeen en vreemd genoeg drink slegs een drankie per jaar en dis die nuwe jaar, kort nadat hy uit die kerk gekom het, en dis ook die enigste dag wat hy sy voete in die plek van aanbidding met 'n preekstoel kom. Anner kere bid hy as hy voor die skerm sit en kyk hoe die jokkie een van sy perde "inhou". Of so lyk dit in elk geval.
Nietemin, Jan het 'n ou bulldozer, 'n flintergat ding, gehad wat hy uitgeleen het en moes terug. Nooit geld gevra vir die uitleen van die ding nie. Seker maar dit so beskou: As Piet my 'dozer aan die gang
Die bulldozer moes egter terug want daar was bietjie stootwerk (bome en bosse en grond) nodig. En so sê Billy Sand nee dis reg, hy sal een van sy lowbeds stuur om die ding te loop haal. Jan het toe sommer die grond reggeskuif waar die lorry moet stop om die 'dozer sommer self op die lowbed te ry. Maar dis nou tipies hardegat wat nie reggehelp wil wees nie: Die lowbed moet langs die spul stop en in plaas van eenvoudig die 'dozer van agter reguit op die trok te ry moet die ding van die kant af op. Die drywer van die lowbed het blykbaar lank en hard probeer beduie van die skuinste en dat die trok nie so kan staan as mens 30 of wat ton wil laai nie, maar toe eerder weggestap toe Jan beduie: "Wil jy my nou kom leer hoe om 'n Bulldozer op 'n trok te kry?"
Hy vertel later dat hy van 'n ent weg (blykbaar 'n hele ent) die spul gestaan en bekyk het en oë toegeknyp het toe die 'dozer se staal met die lowbed begin kennis maak het. Want sien: Yster op yster werk nie so lekker nie en beslis nie teen 'n skuinste nie. Jy moet ou bande of iets onder daai kruiperwiele neersit as jy daai stuk staal op die ander een wil laat bly en wil laat loop. Hy beduie dat die opgaan nog heel voorspoedig verloop het, snaaks genoeg, maar eers op, moes daai 30 ton of wat draai, want dwars op die trok kan die 'dozer nie bly nie. En dis toe wat die mees onaardse geluid opgeklink het: Met die draaislag het 'dozer besluit: Aikôna, op hierdie lowbed gaan ek nie bly nie, en toe soort van bloot anderkant afgegly het, kop onderstebo met Jan onder.
Ons kry die tyding: Bring die grawe en goete en kom help, want Jan is papgedruk onder die 'dozer en al sal die 'dozer 'n goeie grafsteen uitmaak is dit mossie propers om hom sonder 'n doodskleed of ten minste sy grys pak en kerkskoene aan te laat lë nie. Buitendien: Sy erfie hier bo in die kerkhof is mos klaar gekoop en sy graf is mos nie verniet uitgebou nie?
So met die uitgrawery sien ons eers die voete en hanne wat pikswart uitsteek (van die olie wat uitgeloop het) tot ons later tog geluide hoor. Die man leef waaragtig nog! Morné wat daai tyd al reeds die staatslykswa gery het lyk half teleurgesteld en die ambulansmanne (niemand het gedink hulle sou regtig nodig wees nie) begin beduie dat ons maar nou moet versigtig met die gronduitgrawery moet wees want netnou steek iemand dalk nog 'n vinger of hand of 'n ding ook nog af.
Hoe dit gekom het dat Jan nog gelewe het is 'n raaisel wat moeilik te verklaar is, maar ons vermoed dat die 'dozer se "afdak" net genoeg spasie gelos het toe hy so onderstebo geval het vir asem en om die gewig te help wegkeer.
Volgende bekommernis was: Gaan die man ten minste
Nee wat, 'n week of drie later stop die ambulans onverwags hier en beduie dat Jan te moeilik begin raak het en verseg het om verder in die hospitaal te bly lê, en so moes ons vinnig plan maak om vir hom 'n bed aanmekaar te slaan met 'n gat in (vir die nodige) sodat hy darem ten minste 'n bietjie waardigheid kan behou.
Jan loop nou so half mank as dit onweer is. Dok T beduie annerdag vir my dat hy in al sy jare as mediese praktisyn nog nie so 'n groot wonderwerk gesien het as Jan nie. Dalk, so beduie baie mense vir my, moes dit gebeur het om vir Jan bietjie te kalmeer. Nie dat ek dink dit het veel gehelp nie, want hy bly maar steeds 'n moeilike mens.
Die 'Dozer? Hy lê na al die jare nog net so onderstebo, half toegegroei en besig om stadig maar seker op te roes. As jy Oudtshoorn se rigting verby Brandwag ry, kyk uit vir die ding, hy is nie meer daai Cat geel nie, maar lê nog steeds daar teen die koppie voor jy die nedersetting kry.
oester


