Bokomo-brekfisbrief; 08/07/09: Moenie jou tas uitleen nie!

  • 0

Melt, hier is nou goeie raad vir mense wat baie reis, soos jyself natuurlik ook. MOENIE jou tas uitleen nie. Veral nie as jy so dan en wan oorsee wil gaan nie. Ek verduidelik gou, hopende dat my wederhelfte nie hierdie brief gaan raaklees nie.

Goggie (my voortreflike vroutjie) het by geleentheid haar lekker groot reistas aan ons seun geleen vir 'n vakansie. Hy was toe nog in daardie stadium, so effens tussen seun en manwees. Die drie vriende het sommer almal se "goete" in die lekker groot tas gepak. Die "manne" (seun en vriende) het mos nie geheime vir mekaar nie. Ek noem dit spesiaal want dit het verreikende gevolge gehad, met haar eerste besoek aan Australië.

Goggie en Marietjie (haar suster), gaan kuier toe mos later van tyd vir haar broer in Oz. Ek bly genadiglik (besef ek later) agter in Suid-Afrika, omdat ek nie my verpligtinge hier kon ontduik nie. Sy gebruik toe die einste groot tas om haar pakkasie vir die langverwagte in te pak. Ons belowe plegtig om mekaar gereeld te bel en te SMS. Sy moet my laat weet sodra hulle veilig anderkant aankom en so aan, soos "gelukkig-getroudes" mos maar doen.

Dit was 'n hartseer groetery hier op OR Thambo en daar gaat hulle, die bloue hemel in, op pad na die "land down under". Ongeveer so kwart-voor-drie die volgende oggend (Suid-Afrikaanse tyd) bel sy my wakker. Ek het seker net ingesluimer - kan mos nie lekker slaap as my vrou nie by is nie. Ek kon sommer dadelik hoor daar is groot fout, toe sy dadelik uitbars en onbedaarlik begin huil. Die blikskottels het haar sowaar, net daar op die lughawe gearresteer en toegesluit! Ek moes baie hard troos dat alles sou regkom, al moes ek hulle self bel en skel. (Op Afrikaans natuurlik).

Sy moes toe baie mooi verduidelik waarvoor die "knuckle duster" in haar tas is en of sy enige planne het om die land oor te neem! Die ding het blykbaar op 'n manier onder die staalplaat beland wat onder in die tas is om dit te verstewig. Toe het die simpel beamptes ook nog 'n hele paar aanmerkings te maak oor Suid-Afrikaanse vroue en waartoe hulle met sulke "tegnologies-gevorderde" wapentuig in staat sou wees! Hul gepratery onder mekaar, oor die moontlikheid dat sy 'n huursoldaat of selfs 'n geheime agent kon wees wat 'n staatsgreep moes kom uitvoer, het ook by haar geen byval gevind of enige troos gebied nie.

Gelukkig het hulle haar toe darem laat gaan, maar sy moes die gevaarlike wapen vir "navorsings-doeleindes" afstaan. Of net in geval sy dalkies daaraan sou dink om die vliegtuig op pad terug huis toe te probeer hijack? Wat tot onlangs (9/11) nog hoogmode was.

Hoekom hoop ek sy lees nie hierdie brief nie? As die Aussies so bang geraak het vir haar ... is daar dalk tog nog iets, wat ek na al die jare nie van haar weet nie?

Nee wat, sy is onteenseglik een van die ware engele om ons.

Groetnis

Neels (Husky) Visser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top