Bokomo-brekfisbrief; 08/06/2010: Werries

  • 0

Ek onthou vir Werries onregverdiglik as 'n puisiegesig jongeling wat altyd die aanhitser was as daar 'n gespook was. Veral as ons met die Souties laatnag gespook het. Dit was, regtig, Boer teen Brit en het beslis niks met politiek uit te waai gehad nie. "Boer" en "Brit" kon mekaar eenvoudig nie verdra nie. En nee, ek herhaal: Dit het niks met die verlede uit te waai gehad nie. Of dalk het dit?

Ongeag. Werries was so skraal soos 'n riet. Grootbek en het ons ander maar altoos aangehits. Bakleityd was hy gewoonlik die ene met die minste knoppe aan die gesig en lyf. Wonder hoekom?

Nietemin, Werries het altyd beduie dat hy nie baie erg aan baklei het nie en eerder agterna die girls sal vry wat die bakleiers probeer lawe. Hy het inderdaad met moord weggekom soms, hehe.

Lank nadat ons kinderspeletjies gelos het en agtergekom het dat Souties nie regtig so sleg is nie, het Werries een aand besluit om te loop kuier iewers in 'n kroeg daar aan die Rand. Sommige van ons was toe reeds deur die weermag en Werries was groot iewers by daai kanaal met die M vooraan. Blykbaar grootkop. Maar Werries het, omdat hy so skraal was, onthou om altyd hulp byderhand te hê. Soos in Clint soort van hulp. Jy weet, daai goete wat die G5's afgevuur het. Of so het dit gelyk as Werries daai .44 uitgetrek het. Hy het hom so van bo-af uitgehaal en getrek en getrek en getrek. Ek wetie hoe lank daai loop was nie, maar vir my part kon dit netsowel 'n tienduimloop gewees het, so lank het dit gevat vir die trekslag.

En so sit Werries die aand rustig sy dop en drink toe iemand hom herken van doerie tyd af. 'n Soutie van daai Ingelse skool af. En Soutie het planne gehad om vir Werries te beduie waarom die gym goed is vir mens. Knoppe waar ander manne klere het en nog wat.

Ek was nie daar nie, maar die manne wat daar was beduie dat Werries die ou doodkalm beduie het om rustig te raak en toe die man nie gewone Afrikaans verstaan het nie daai kanon van hom uitgepluk, nee, ek lieg, uitgehaal het, en toe in die rigting van die Ingelsman beduie het. Hulle sê dat die Ingelsman op sy knieë agteruit gekruip het uit daai kroeg uit met Werries wat die kanon hier teen die ou se voorkop beduie het. Werries het later innig vertel hoe die loop van daai .44 sulke holtes op die hardegat se voorkop gemaak het.

Hol oorwinning, want kort later is Werries hard en goed pak gegee deur onbekendes. Werries het beduie dat hy nie eens kans gehad het om sy kanon uit te pluk nie toe hy die eerste keer met die sypaadjie kennis gemaak het en daarvandaan was alles basies deurmekaar. Hy kon wel na sy duur Duitse Motor toe kruip met einste kanon ongebruik onder sy arm. Moenie met Werries Ingels praat as jy van 'n sekere plek daar aan die Oos-Rand afkomstig is nie. Hy is steeds baie sensitief daaroor.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top