Bokomo-brekfisbrief; 08/06/08: Tarentale vang ...

  • 0

Doer in die depressiejare het die moeilikheid al begin en tot na die groot oorlog finaal sy gat gesien het in 1945 se koers, was dinge vir die mense in alle dele van die wêreld nie so hunky dory nie.

Wat ookal gedoen was, om die oorlog te voorsien, was die eerste prioriteit. So het die agterblyers gerantsoeneer geraak op dinge soos petrol waarvoor hulle koepons moes kry en die hoeveelheid wat elke ou kon kry, was beperk. So het die manne alle soorte van planne gemaak om te kan ry en niemand het onnodig gery nie.

Oupa het 'n kontak by die army se menasie gehad by wie hy so 'n gemsbok- of koedoekarkas kon gaan ruil vir 'n ekstra gellingtjie of twee skelm petrol. Dan was daar manne wat waterpomp-enjins [Lister en Bumford, wat anders?] laat loop het op koolgas wat hulle gemaak het van kameeldoringhout wat hulle verbrand het. As ek reg onthou, was daar tot in die vroeë sewentigs by die ou Gammams Proefplaas buite Windhoek so 'n Listerenjin wat steeds op koolgas geloop het en sy water elke dag gepomp het. So was daar ouens wat dié storie op hulle karre getraai het .......... is dit waar die uitdrukking vandaan kom om spoed te maak, 'om kole te gooi' dalk kan wees?

Nog 'n ding wat vrek skaars was, was die 'baklei' patrone vir gewere, naamlik die .303 wat deur die Souties gebruik is en die 7.9 Mauser wat weer die Jerries se patroon was. As mens dink dat die mense in die tyd iets soos 'n sjieling vir 'n slagding betaal het, dan was 'n halfkroon vir 'n .303-patroon enorm. Die slegste van hierdie patrone was, dat in die oorlog toe die lood begin skaars raak het, het die Engelse 'n .303-patroon gemaak waarin die koeël se punt rubber ingehad het ipv lood. Mens kon die patroon agterop eien omdat daar so 'n diamantjie op gegraveer was. Hierdie patroon het lekker bont geskiet en baie ouens het probeer om sy maters te bedonner deur hierdie 'rubber'-patrone te ruil vir die regte loodpatrone.

Feit bly staan, jy het nie sommer geskiet as jy 'n stuk wild in die veld onder oog kry nie, want jy het heel moontlik net een of twee patrone tot jou beskikking gehad en jy moes dêm seker maak van jou skoot. Die ou .303 het ook nog soos 'n kleilat gegooi en dit het dinge in die veld nie makliker gemaak nie. Kwes jy, dan moes ander planne gemaak word om die dier dood te kry. Baie ouens het 'n pistool of rewolwer saamgedra om die takie mee te verrig. Dis nou in die kalibers .22, 6,35mm en 7,62mm wat almal skaars 'n duik in 'n drol kan inskiet, wat nie in die oorlog gebruik is nie en die ammunisie voor geredelik beskikbaar was. Om 'n gekweste dier mee dood te maak van naby, was dit egter goed genoeg voor.

Nou, as 'n man so lank in die veld voete ingesit het om te probeer om 'n koedoe of 'n gemsbok aan te tree en jy kry niks onder behoorlike skoot nie, dan dwaal 'n man se gedagtes maklik na spikkelhoenders toe: Tarentale. As jy hom reg hanteer en gaarmaak, dan is sy bruin vleis so fyn gekook saam met rys koningskos. Maar hier, nou, in die veld met jou .303 met sy miserabele duur patrone en jou pistooltjie wat jy amper mee verder kan gooi as wat jy kan skiet, wat maak jy aan jou tarentaal-lus?

Jy wag ......... totdat dit amper donker is en jy nog net die berge en koppe se silhoeëtte teen die horison kan sien en dan stap jy stadig en versigtig nader na 'n kameeldoringboom toe waar jy gesien het vlieg die tarentale heen om te gaan slaap vir die nag. As jy onder die boom is, dan begin jy om stadig om die boom te stap in 'n sirkel en nie lank nie, dan hoor jy woep! hier agter jou soos 'n dooie tarentaal op die grond val. Nog so 'n stuk tot nog een of twee val en dan het jy genoeg vir jou verwagte ete. Sien, die tarentaal is te onnosel om te besef dat hy sy kop moet lig en oorslaan om jou figuur in die donker te bly volg nie en dan draai hulle hul eie nekke af!

................................. en ja, het julle ook geweet dat 'n Landrover eintlik deur Toyota gemaak word?

NAMIB

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top