Bokomo-brekfisbrief; 08/05/09: My drie Ma's

  • 0

 

 

Ek onthou hoe jy by die agterdeur wasgoed gewas het met die dubbelbaliewasmasjien. Die skuimbolle het gras toe gefladder en ons het daardeur gehardloop terwyl ons Tarzan en Jane gespeel het. Jou mooi polkadot-rok met die breë belt het wyd geklok wanneer jy saam met ons in die rondte gedraai het om te kyk hoe lank dit neem voor ons almal uitasem en duiselig op die gras neerval. Ouboet se kapokkies, Hendrik, French en Bonte, het vervaard gevlug as ons so uitbundig raak. Die veertien skilpaaie en Snippie het alles maar net gadegeslaan asof niks ooit gaan verander nie. Toe pa bietjie geld gemaak het, het ons na ʼn groter huis in ʼn vooraanstaande woonbuurt getrek waar al ses ons kinders in sy eie plekkie kon nes skrop. Jy was die tannie by wie almal leer tennis speel het, wat die Voortrekkers vir almal so lekker gemaak het, wat betrokke was in die gemeenskap en in ons huis was sonskyn en vreugde.

Op kosskool was ek so trots op jou wanneer jy met jou smaakvolle pakkie en modern versorgde hare van die stad af kom om my te kom oplaai. Ek wou altyd dat my maatjies sien hoe mooi my ma is. Ek onthou hoe lekker dit was as ons materiaal gaan koop het in Fietas en dan vir Tannie Lenie van Newlands ʼn prentjie kon teken presies hoe sy die kledingstuk moes maak. Twee weke later gaan laai ons opgewonde ons nuwe uitrustings op. Ek onthou hoe jy haar altyd ekstra betaal het, hoe vrygewig jy altyd was. Jy't my geleer om te gee en NOOIT met leë hande te gaan kuier nie.

Iemand vra nou die dag vir my wanneer dit begin het. Hoe kan jy bepaal wanneer iemand begin het om ʼn alkoholis te wees? Is dit die dag toe jy die bottels drank in die badkamerkassie weggesteek en skelm begin drink het? Of is dit die dag toe jy besef het dat daar nie genoeg geld is om die hoë lewenstyl te handhaaf terwyl jou man se groot drome net drome bly en nooit realiseer nie? Is dit die dag toe jy besef het dat ander vroue jou man ook aantreklik vind en wanneer jy drink neem dit die pyn weg? Was dit die eerste glasie wyn in jou jongdae of was dit in jou gene toe jy nog net ʼn klein polkadotjie in jou ma se moederskoot was?

Naderhand was jy nie meer die ma wat ons geken het nie.

Stadigaan het jou liggaam begin met sy planne. Jou bloedliggaampies het vergadering gehou; in jou brein.

Die dag toe pa bel en geskok die woorde uitkry, was die eerste dag in my hele lewe wat ek en pa mekaar ʼn drukkie gee.

My derde ma was my eerste ma in ʼn hok. ʼn Hok van onverstaanbaarheid. Die hok se naam was afasie. Jy het weer leer loop, eet, aantrek, lag en lewe. Sonder drank en sonder spraak. Vir veertien jaar.

Daar was komiese oomblikke, selfs nadat hulle jou been moes amputeer omdat jy geval en jou been gebreek het. Ek en Kleinsus het jou dikwels uitgeneem. Onthou jy hoe ons probeer het om jou uit die motor te tel en jy deur ons arms gegly het en op die grond beland het, sodat die sekuriteitswag moes kom help en ons so lag dat ons almal naderhand op die grond sit? Jy het altyd jou waardigheid en sin van humor behou deur die mees onmenswaardige situasies.

Vandag drie jaar gelede is jy begrawe en op moedersdag sal ek nie huil nie; ek sal aan jou dink en smile.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top