Nadine vra waar ons was toe Eugene vermoor is of was dit; waar was ons toe ons gehoor het? Nietemin, ek en my wyse man was vir die eerste keer in ons lewe Kgalagadi Oorgrenspark toe. Vir 4 dae selfone afgeskakel en in die wildernis rondgery. Wat 'n belewenis. Op die eerste dag verkyk ons onsself aan die absoluut koninklike gemsbokke en springbokke, sien ons drie keer leeus en twee keer jagluiperds in die droë rivierloop. 'n Prag van 'n luiperd lê op 'n krans en staan so nou en dan op sodat ons hom deeglik kan bekyk. Omdat die bos nie ruig is soos in Kruger Wildtuin nie sien mens baie gompoue, sekretarisvoëls en baie valke en arende ook. Ek het aanhoudend foto's geneem van die rooi duine en op ons nagrit het ons drie soorte jakkalse, 'n muskeljaatkat, 'n rooikat asook 'n vaalboskat gesien. Ons het geseënd gevoel om so bederf te word met die beste van God se skepping.
Wanneer die pad eentonig geraak het en daar bietjie min diere was het ons probeer om mekaar vermaak. Een middag onthou ek die liedjie van jare terug en begin sing (ek kan nie goed noot hou nie, maar het probeer) "Ver in die ou Kalahari, daar sing die boere so ..." en ongelukkig kon ek nie verder onthou nie. Jinne, maar toe voel ek sleg, ek sal graag vir my kleinkinders hierdie tipe liedjies wil leer. Buitendien, ek sing mos ook die liedjie al langer as wat Malema sy liedjie sing. Van toe af het dit ons so gepla dat ons twee dae lank die liedjie vir die diere probeer sing het. Ons het onthou van "Wyd lê die eindlose vlaktes" , "sonbesies sing in die bosse" asook "rooi Afrikanerosse sien jy om elke draai" en het probeer om die liedjie aanmekaar te sit; sonder sukses.
Die laaste aand het ons oorgebly by Mata Mata in 'n chalet met 'n TV en was geskok oor die nuus van ET se moord. Dadelik baie kwaad vir Malema se onverantwoordelike uitlatings en die mense se laggende gesigte in die agtergrond, waar hy verklaar dat hy niks te doen het met ET se dood nie. Ewe smug verklaar hy dat hy sal voortgaan om die liedjie wat hy van 9 jaar af al sing, te sing. Geen mens behoort so untouchable te wees nie en niemand behoort verhewe bo die wette van die land te wees nie.
By die huis aangekom, het ek dadelik die woorde van "Ver in die ou Kalahari" in ons ou Voortrekkersangbundeltjie gaan opsoek en sommer ook "Slaap Pikaninni" s'n.
Vega


