Bokomo-brekfisbrief; 08/03/2011: Vrugte steel en die gevolge ...

  • 0

Op een van ons noordedorpe was daar die ou onderwyser wat baie lief was vir tuinmaak en sy vrugtebome wat sy werf volgestaan het, was sy trots. Hy het hulle reg en gereeld gesnoei en as die weer te straf vir hulle was, dan het hy net omgetrek om sy bome te beskerm. Die vrugte wat hy in hierdie droogteland van ons gekweek het, was ongelooflik mooi, baie soet en lekker. Sy vrugteboord was natuurlik soos ’n magneet vir die koshuisbrakke van die plaaslike hoërskool. Hy het nog uitstekende gehoor gehad en sy haelgeweer was altyd paraat. As jy ouens by die skool kruppel-skeef-skeef sien loop, kan jy maar weet dis ou meneer wat weer hulle gatte vol growwe sout geskiet het in sy boord.

’n Redelike mens sou dink dit sou die kinders afskrik, maar dit het hulle planne net beter gemaak en dié drie mannetjies besluit om die steel der stele in die onnie se boord te gaan maak die naweek, en hulle tref voorbereiding. Toe hulle geweet het ou meneer is nie by die huis die Saterdagmiddag toe die skool rugby speel nie, toe's hulle soontoe en het hulle die draad mooi beskou en toe ’n gat oopgereig onderdeur die draad en dit met ’n wit lap gemerk. Die gedagte was as ou meneer hulle bespring, dan sny hulle ’n lyn vir die wit lap en duik deur die gat want so plat is ’n man se gat mos heelwat smaller vir die sout wat gaan kom?

So gemaak en daai aand net hier na 10 uur die aand, toe is hulle oor die draad en hulle pluk vrugte. Elke man loer so af en toe vir waar daai wit lap by die gat moet wees sodat hulle rigting darem reg moet bly. Wat hulle nie geweet het nie, was dat ou meneer sy tuin so goed ken en die wit lap by die gat raakgesien het en dit toe so twee treë regs van die gat verskuif het! Hy pluk die deur oop en die manne laat spaander vir die wit lap en is so kop eerste in die draad in en hulle val almal daar op ’n hoop. Ou meneer het so gelag dat hy nie kon skiet nie! So die sout het hulle darem die slag gespaar gebly, maar die ander kinders het hulle gespot oor die blokke wat die draad op hulle gesigte gemaak het ...

Namib

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top