My ou maatjie, jou ontydige dood het my baie onkant gevang. Ek kan nog nie glo jy is nie meer hier nie.
Ek en jy het een van daardie besonderse vriendskappe gehad, wat min mense op kan roem. Al was ons net kinders, ek het nooit daarna, tot vandag toe, weer ‘n seunsmaat gehad soos jy nie, meisies het mos nie eintlik seunsmaats nie, nie so goed soos jy was nie.
Onthou jy Gouriqua Henco? Daar waar ons gebly het, so tussen Gourits en Stilbaai. Wanneer ons by die skool op Albertinia was, het ons ons eie vriende gehad, mekaar omtrent nooit gesien nie, maar by die huis, daar langs die see, was ons die beste pelle!
Ek sal nooit vergeet, daardie twee jare, wat ons daar gebly het, was die beste twee jare van my lewe. Ek sit baie dae en droom weer oor hoe sorgeloos ons lewens was, die fynbos agter ons, die see en rotse voor ons, niks kon ons stuit nie.
Ek onthou hoe ons amper elke middag na skool, nie kon wag om uniforms uit te trek, ‘n broodjie te gryp, en dan het ons afgestap see toe. Ons het baie daar tussen die rotse gaan swem en speel. Daar is mos niks sand of strand nie, net klippe en rotse. Maar dit was die lekkerste speelplek waarvoor kinders kon vra!
Ek onthou hoe ons visgevang het, ek het net rotse gevang. En onthou jy ons seekat-vriend? In die viskuipe, wat gebou is deur mense vanmelee, as laagwater kom, en die see trek terug, dan bly daar visse agter. Hier het ons ‘n klein seekat ontdek, en geglo hy is ons maatjie, as hy so speels-speels met sy een lang poot op die water in ons rigting slaan.
Ek onthou by daardie einste kuip het jou boetie ‘n ronde dingetjie in plastiek opgetel. Ons het almal saamgedrom en gewonder wat dit is. Dit was duidelik iets wat uitgespoel het, wat lank in die water was. My en jou pa het daar aangekom, en ek kon die ongemak op hul gesigte sien, min sou ons weet hoe ‘n kondoom lyk!
Ek onthou die visbraaie by julle huis. Dit was gewoonlik snoek met appelkoos-jêm, en patats op die vuur gebraai met botter in. Ek onthou hoe jy een jaar, teen die einde, al jou skoolboeke in ‘n konka gegooi het en verbrand het. Ek het nie. Ek het jou oopmond gestaan en aangaap omdat jy so "winty" is om dit te doen. Ek het nie die moed gehad nie. Jy het nog altyd ‘n "wild spirit" gehad in jou.
Onthou jy daar êrens op Gouriqua was ‘n begraafplasie, met ou-ou grafte, seker so 8 of so. Ons het mekaar gereeld "gedare" om na donker soontoe te loop, aan die heining te raak en terug te hardloop. Ek was altyd te bang.
As ek jou moet beskryf, hoe ek jou onthou, dan onthou ek die ligbruin reguit hare, jou kuif wat so half oor jou regteroog hang, en ‘n glimlag, van oor tot oor, soms skamerig, soms uitbundig. Jy het baie gelag.
Ek en jy het alles met mekaar gedeel. Jy het selfs aangebied om my te leer soen toe ons Standerd 7 was! Ek onthou dit asof dit gister is. Ons het onder ‘n boom gesit, so styf teen mekaar, en moed bymekaar geskraap. As ons nie so deksels skaam was nie, sou jy my eerste "soen" gewees het, iets wat ‘n meisie vir ewig onthou. Maar helaas, ons kon nie, en het toe maar oor allerhande nonsens begin praat. Die soenery vergete, weer net ou pelle.
Jy het my eindeloos geterg oor my sproete. Ek het hulle nog steeds, geen room op aarde vat dit weg nie, vra my, ek weet!
Terwyl hierdie land asem ophou vir die aftel na die wêreldbeker afskop, het jy jou laaste asem uitgeblaas. Op ‘n Vrydagnag, terwyl mense kuier en ontspan, het jy in ‘n koue hospitaal gelê. Ek hoop jy het geliefdes by jou gehad. Ek hoop jy het vrede in jou hart gehad. Ek wens ek het geweet.
Ek het jou nooit geken as volwasse man nie. Ek het net die kosbare herinneringe van ons tienerjare-vriendskap. Jou ontydige dood laat my net weereens besef hoe kosbaar elke minuut van elke dag is. Hoe kosbaar vriende is en dat mens nie moet afskeep nie. Ek besef dat ek weer my lewe in oënskou moet neem, dat ek ou vriende moet opsoek, huidige vriende koester, en die meeste gee waartoe ek in staat is vir my familie, want mens weet net nie wat voorlê nie.
Wanneer hulle jou Maandag begrawe in Mosselbaai, en jou familie en vriende van jou afskeid neem, sal ek aan jou dink, en jou onthou soos ek jou laas gesien het, met jou kuif wat so half oor jou regteroog hang, en jou wye, skamerige glimlag.
Rus in vrede my maatjie.
Altruïs



Kommentaar
Ou Henco ...
Dit is hoe ek Henco ook onthou het. Altyd 'n wille "spirit" gehad.
Ek onthou die dae soos gister toe ons saam in Laerskool Erasmia was. Ek kan nie eens onthou hoe het ons maats geraak nie maar ons het in dieselfde straat gebly, Benstraat.
Dit was die dae toe Jean-Claude Van Damme se flieks Bloodsport en Cyborg uitgekom het. Ons was karate kung-fu mal! Ek onthou toe ek saam met jou en jou ouers Zwartkops Drive-In toe gegaan het om Enter the Dragon te kyk! Julle het toe nog met die babablou Datsun 1400 bakkie gery. Laura Branigan se Self Control het nog oor die speakertjies geblêr!
Ek onthou hoe ek en jy gekonkel het om na skool vir jou ma te sê ek het my huissleutels vergeet net om by jou te jol in die middae tot my ma van die werk af kom.
Dan was daar die "rivies" of te wel die rivier, Hennops. Ons het ons gate uit geniet met die swaai by die groot boom! Ook het ons met die groot stormwaterkanaal van die inry af geloop in pikdonkerte tot onder by die rivier! Dit het gesorg vir groot opwinding!
Toe op 'n dag sê jy julle gaan trek, Mosselbaai toe. Ai dit was nie lekker nie. Maar met een vakansie het ons by julle gaan kuier in Gouriqua. Wat 'n lekker vakansie was dit nie! Ons het cowboys en crooks gespeel. Natuurlik was ek en jy altyd aan die wenkant soveel so dat die ander nie meer wou saamspeel nie! Ons het ook klipvissies gaan vang daar onder by die rotse! My ma het nou nog die foto van waar ek, jy, Johan en my suster voor ons kar staan vir 'n "pose" voordat ons op pad was.
1997 gaan ek en vroutjie met ons paar maande oue babaseuntjie af Witsand toe. Ons gaan deur Mosselbaai en ek sê vir my vrou ek wonder of julle nog daar bly? Ek stop by 'n telefoonhokkie en soek julle van op. Die eerste een wat ek skakel antwoord 'n tannie, dit is toe wraggies jou ma Nellie! Ek was so bly en jou ma was net so bly om van my te hoor. Sy nooi ons toe dadelik om te kom kuier. Daar ontmoet ons mekaar weer na jare! Ai dit was lekker om mekaar weer te sien! Jy het op daardie stadium met so donkerblou Opel-stasiewa gery. Jou pa het nog 'n foto van my en jou saam geneem en sou dit gepos het maar het nooit die foto gekry nie ... ai.
So het die era van Face Book jare daarna aangebreek. Ek maak toe kontak met laerskoolvriende van Erasmia en Charmaine sê sy bly en werk in Mosselbaai. Ons het so heen en weer gesels en op 'n dag vra sy my het jy gehoor van Henco? Ek sê nee, wat van hom? "Hy is dood," sê sy ... Ai dit was nie lekker om te hoor nie. Dadelik speel al ons kinderjare se vriendskap in mens se kop af en jy onthou als asof dit gister was!
Ek is so bly ek het jou daai tyd opgespoor net om weer bietjie te kon kuier, te kon gesels oor die ou dinge.
Henco my maat dit is vandag 13Februarie 2017 wat ek hier skryf maar ek sal jou nooit vergeet nie! Ons kinderjare se saamwees was baie kort maar ons het voluit gegaan! Daar is so baie staaltjies wat ek kan byvoeg soos toe ons skateboard gang die berugte Christoburg se afdraande aangevat het. Die manne het hul self te pletter geval. Ek onthou nou nog hoe jou hande gelyk het ...velle af! Jou ma was nie baie ingenome met jou nie!
Henco, jy was definitief te gou weggevat ou maat, maar die besluit berus nie by ons nie.
Rus sag ou vriend tot ons weer ontmoet.
Ruaan