
Almal van ons is nie so bedrewe soos die Cabano's en die Nettie Pikeurs agter die kospotte nie, maar hier is ʼn vinnige oplossing, so reg uit 'n boervrou se bekkie. Die antie, vermoedelik iewers vanuit die diep platteland, het 'n paar weke gelede ingebel na 'n RSG-program waarin reseppies oor en weer uitgedeel word.
Sy vertel toe vir die luisteraars dat jy net vier bestanddele vir haar maklike pizza-resep nodig het: 'n heel brood, 'n blikkie tuna, sterk plastiek en 'n bakkie. Die een kort korsie van die brood word afgesny, dan hol jy die sagte dele uit, maak die blikkie tuna oop, gooi dit in die gat van die uitgeholde brood, plak die korsie weer daaroor en neem baie sterk plastiek om die brood in toe te draai. Sommer twee lae plastiek, net om ekstra seker te maak, rammel die antie af.
Toe sy die slag asem skep, laat hoor die aanbieder dat dit mos nooit kan werk nie? Die plastiek sal onmiddellik begin smelt as dit in die oond of selfs net naby hoë hitte geplaas moet word.
Die antie verduidelik toe ewe geduldig dat jy glad nie hitte nodig het vir haar resep nie. Dis waarvoor die bakkie daar is: die toegedraaide brood/tuna word voor jou bakkie se voorste wiel geplaas, terwyl jy versigtig en baie stadig daaroor ry, eers vorentoe, dan agtertoe, totdat jou brood in 'n plat pizza verander.
Sy het wel gewaarsku dat dit effens moeiliker gaan wanneer hulle 'n klomp gaste verwag en meer as een pizza benodig. Slegs bedrewe bakkiebestuurders sal daarin slaag om vier tyre-pizzas gelyktydig te maak!
Groete
Ellen B

