Goeie Wiskunde-metodiek
Vandag is Abe sommer rêrig omgekrap en met vrese vir die toekoms vervul. Sy klein Abe kan nie twee en twee bymekaar tel en vier kry nie. Wat gaan van die arme kind word as hy die shop eendag moet oorneem? Hy het juis vandag, toe hy moes help, 'n baadjie wat R760.00 kos, verkoop vir R7.60. Gelukkig is dit nog 'n profyt van sixty cents, maar darem!
Naarstiglik word daar gesoek na 'n goeie skool en uiteindelik val die keuse op Christian Brothers College. Dit kon toe nie hoër of laer nie; spoedig staan klein Abe, uitgedos in sy nuwe kommandowurm-kleurbaadjie in 'n ry tussen vreemde kinders by CBC.
Daardie middag toe klein Abe verwilderd by die huis kom, het hy skaars geëet of is hy kamer toe en jy sien net Wiskunde-boeke op die bed, op die lessenaar en selfs op die vloer, soos die mannetjie werk.
En so het dit elke dag, tot naweke, gegaan. Menige nag moes Abe die boeke stilletjies van sy slapende seun wegneem sodat hy darem rustiger nag kon hê.
Uiteindelik breek einde van die jaar aan. Met trots sit klein Abe sy rapport voor sy pa neer. Abe val amper van sy stoel af. "Veels geluk met jou A vir Wiskunde, my seun, maar wat het dan gebeur?" wil Abe weet.
"Pa, by daardie skool speel hulle nie met Wiskunde nie. In amper elke klaskamer is daar al 'n ou teen die plusteken vasgespyker."
Groete
Angus


