Bokomo-brekfisbrief; 08/01/10: Ou Gert hou reünie

  • 0

Bedankingsbrief gerig aan die organiseerders van die reünie van die 1966 matrieks van die Hoërskool Fakkel, Johannesburg, op die plaas van Mike en Annatjie op 17 Oktober 2009.

Hoesit al my ou china's?

Jis, dit was larney om al julle ous weer te spy, met julle Soutie cherries en al. Al daai lekker ou smiles op almal se dials en so. Amper gevoel soos die ou dae daar by die Adelphi of die Ascot of Jack Eustace.

En om al daai chicks so lekker te druk en te squeeze en te chaff, jis ek het dit baie gesmaak, ek sê. Ek het ge-scheme dis Christmas, my gabbas.

Jis, en al daai ous wat nou daai main possies het waar hulle graft by die Boere en die Railies en die Council en die plaas en so, jis ek smaak julle spanne, man. Ek het Maryna ge-tune vir 'n job daar by haar graft in die bra- department van die OK. Ek meen ek het gevoel ek is nie heeltemal sonder experience in daai veld om 'n contribution te maak nie, maar sy het ge-scheme no ways, daar is klaar 'n moerse queue vir jobs daar en lyk nie vir haar ek gaan so lank kan uithou nie. Miskien is ek beter af daar in die boulyn waar ek is, met dagha en illegals van die DRC vir company. Wat ou Theresa en ou Lônie en ou Carl doen puzzle my, maar klink soos main jobs, anyway.

Ek het al julle snazzy wiele soos Mercs en Bee-Ems en Four by Fours ge-check en uitge-shine, party met sun roofs. So baie blink goed, lucky die son het nie geskyn nie, anders moes ons oppas vir arc eyes. Nie 'n bike of a Volla in sight nie. Ek het my Cortina maar daar agter by die ousie se kamer gaan park. Hom spesiaal 'n tune-upgegee vir die trip Warmbad toe.

Sorry oor al daai onnies wat nou gone is soos ou Tanne en Huffies. Hulle het ons spanne kak gegee, en nou mis ons hulle.

En dit was lekker om te chat oor die ou dae, en te vertel hoe clueless party onnies was. En om te dink ons gatte het baie keer gebrand net omdat ons Brylcreem aangesit het. En al die rubbish wat hulle ons try leer het. Die voortplanting van die sprinkaan, in plaas van hoe cherries op die paal raak. Vertel ons spanne van die VOC, maar zilch van die ANC. Scheme hoe cool die plaas is en hoe bad die stad. Vir meeste van ons was die plaas daai veld anderkant Rifle Range Road. Ons het zilch verstaan.

En nou moet ons cope met ‘n brand new SA uit die boks uit. Baie issues my china's. Wit is nie meer cool en Swart bad nie. Die wiel het gedraai. Eintlik het ek nog altyd ge-scheme cool is cool en bad is bad, never mind die kleur, maar wie sal nou na so 'n ou soos ek luister? Of my glo, for that matter? Almal het daai tyd anders ge-scheme. Ek kan onthou hoe ou Patel vir my ma goed op die boek gegee het as sy short was en nie genoeg start gehad het om deur te kom nie. Thanks ou Patel, man.

En vir ou Mike en Annatjie wat hulle cabin available gemaak het, en die possie in hulle jaart daar op die plaas kompleet met tent, net in case dit reën. En toe reën dit ook. Even die hond het droog gebly. Spanne thanks, man.

Vir al daai main spykers en king pins soos ou Thea, ou Annari en ou Willie, smaak dit baie. Julle weet nog hoe om 'n jol te organize. No surprise dat julle die hoof-peanuts in die pakkie op skool was nie. Thanks man.

En ou Yvonne daar uit die Kaap wat al daai free graze en happe ge-supply het, jis dit was grand. Ons het dit baie gesoek.

Ek sou graag 'n funky storietjie wou skryf soos daai op die TV van ou Jan Spies, of die ander ouens van Namakwaland, waar ever dit ook al is. Of some other plek daar de-moer en gone, waar ouens nie TV of bioscope het nie en na mekaar se stories sit en luister vir entertainment. Alles oor die plaas en die bosse. Hulle weet niks van samoosas en curry balls van Ali se keffie af nie. Of hoe om nie met jou bike op die tremspore te val nie. Maar ek scheme ou PG Doep het pryse gekry met ouens wat uit Turfies kom, so dis seker OK.

En so, cheers vir eers my gabbas, check julle oor twee jaar, as die cops ons nie in die mean time chookie toe vat vir een of ander iets nie. Of 'n taxi een van ons afskryf, of iemand sy gat sien in 'n hijack nie.

Thanks,

Ou Gert (Boy van die Suburbs)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top