2009 gaan nog baie nuwe verpakkings met dieselfde onveranderde inhoud te siene kry. Cope is een so voorbeeld. Zimbabwe gaan een wees. Die huidige oorlog in Gaza wat tans woed. Die Vatican gaan ’n ander wees (het enige van julle die artikel gelees wat die Vatican beweer dat die Pil die oorsaak is van besoedelde hormone op aarde?) VSA gaan dit ook aan ons bewys.
Nee wat, ek dink ons moet dalk eerder na die prentjies kyk en minder lees wat journalists, politicians en geld-kerk-leiers aan ons in woorde verkwansel. Woorde kan soms bitter goedkoop wees en is ingestel op die ontvanger se interpretasie, nie meer die stuurder se idée wat oorgedra word nie.
Kyk na Maandag, 05 Jan se Beeld bv. Op Bladsy 6 is daar ’n skokfoto van ’n siek jong kind in ’n kruiwa … en op bladsy 7 is daar prag natuurfoto’s – veral die een met silhouette van twee olifante teen die sonsondergang. Die vergelyking en kontras tussen die twee foto's is merkwaardig. Dit gaan oor die natuur, of dit nou mens of dier is, dit is lewe. Maar ongelukkig lyk die diereryk baie meer stabile en vreedsaam as wat tans tussen die mensdom aan die gebeur is.
Verlede Dinsdag (30 Des) se episode van Special Assignment getitel "Death Sentence" het my tot ’n ander waarheid geskok. Dit is ’n moeilike onderwerp en het seker meeste kykers in ’n tweestryd gelaat … ’n tweestryd wat dieselfde beginsel in twee deel en beide dele is reg, en ook verkeerd. Almal moet doodgaan – dit is dit. (Wat daarna met die siel gebeur is ’n debat op sy eie.) Maar om in die proses jou menslike waardigheid te verloor is onaanvaarbaar, of jy nou ’n priester of ’n moordenaar is of nie. (Vir die wat dit nie gesien het nie: Nee, dit gaan nie oor die doodstraf nie, maar oor mediese behandeling en mediese parool vir terminal siek gevangenes – dit was totaal skokkend …)
Dit laat my wonder … wat die mensdom verloor het, is waardigheid. Daarin lê eerlikheid, opregtheid, respek en goeie beginsels diep vervleg. Ek dink in die moderne era het mense waardigheid met status en geld verwar. As jy nie dit het nie, word jy nie as waardig beskou nie. Dit is nie waaroor waardigheid gaan nie!
Wonder wie gaan die link en balans tussen mens en dier en die natuur vind en dit oordra na ons menslike gene om ’n nuwe geslag voort te bring … soms moet ons teruggaan na waar ons vandaan kom, om weer te kan besin waarheen ons oppad is … ek dink evolution het aan ons ’n swak geen oorgedra … selfsug en gierigheid. Dit is nogal jammer.
Nou ja, ek hoop dat 2009 vir julle nuwe pakkies met nuwe inhoud sal aflewer.
Groetnis.
Sue

