Ek het nou laas week terug gekom van Johannesburg af, na ek vir tien dae daar was vir 'n werkskursus. Ons was op die 20ste verdieping in die UCS-gebou in Braamfontein. Die lugbesoedeling wat mens van daar bo af sien, is genoeg om mens bang te maak. Ek kan nie glo ek het daai lug in geasem vir meer as dertig jaar nie. Die stad het seker maar sy mooi tye, en hy is vol van mense wat ek baie lief het. Tog dink ek nie ek sal ooit weer daar wou bly nie. Ek was drie dae daar, toe kon ek nie wag om terug te kom PE toe nie. Die mense is soveel vriendeliker, lewe is minder van 'n gejaag, minder misdaad "worries", en die natuurskoon is net soveel meer hier. Na amper twee jaar uit Jozi kan ek nou met alle eerlikheid sê PE is nou my nuwe tuiste.
In elk geval. Saterdagoggend stuur werk my Oudtshoorn toe. Ek besluit ek gaan die besige N2 met al sy padwerke vermy en slaan regs net na Humansdorp. Ek vat die R62, verby Kareedouw en stop in Joubertina vir 'n Kaasburger en skyfies. So vat ek toe weer die pad, al deur die Langkloof met al sy appelplase en stop eers weer toe ek in Oudtshoorn aan kom. Oudtshoorn self is 'n pragtige dorpie. Omsingel deur berge, kleure en Karoo. My werk daar het my so vyftien minute geneem, toe slaan ek weer die pad. Ek besluit om via George al langs die kus af terug te ry huis toe. Voor ek by George sou uit kom het ek nog 'n groot verrassing. Die Outeniquapas. Fokken amazing! Daar stop ek eers en rook 'n sigarette terwyl ek deel word met die pragtige omgewing. Die mis van die see hang oor George, en ek kan sien die weer daar is heel anders as die in Oudshoorn. Ek ry verder, deur George, verby Victoriabaai, Sedgefield, Knysna en Plet. Ek stop weer vir bene rek by Bloukrans waar die mense van die brug af spring vir 'n paar kiekies om te bewys hulle was "actually" so mal. Die uitsig was mooi met die son wat begin laer lê het. Na twee biere en 'n pakkie Simba-skyfies ry ek deur die Tsitsikamma terug huis toe. Van die wegtrek hier by die huis tot by die weer hier stop, het ek deur die mooiste dele denkbaar gery. Ons land het soveel juwele. Ons is so gelukkig om in so 'n pragtige land te kan woon.
God seën Suid-Afrika en sy mense.
Bobbejaan


