Feesvoos, op 'n baie goeie manier is hoe ek vanoggend voel. Die afgelope Aardklop was soos gewoonlik vir 'n teaterliefhebber soos myself een groot vreugde gewees!
Ek dink nie ons besef hoe goed die deurslag Afrikaanse skrywers, regisseurs en verhoogakteurs aldag is nie. Na 19 shows in vier dae het ek net weereens besef dat ons nie een tree terug hoef te staan as jy dit vergelyk met oorsese teater en produksies nie. In sommige gevalle dink ek oortref ons hulle produksies en dit op begrotings wat nie eers een akteur se salaris oorsee sal betaal nie!
Marthinus Basson, Saartjie Botha en vele ander sou groot-groot name in Amerika en Brittanje gewees het, sou hulle daar in Engels hulle ding gedoen het!
Ek dink ons is so gelukkig dat hulle dit in Afrikaans doen en soms net vir die liefde van die saak! Van my kant af, ʼn pleb teaterganger, wil ek vir elkeen van die produksiespanne wat die wonderlike teater na ons gebring het op Aardklop, ʼn staande toejuiging gee vir die vermaak, die bepeinsing oor sekere stukke en die totale genot om uitstaande produksies te kon geniet in die mooiste mooiste taal, naamlik Afrikaans!
Ek dink ook dat die borge wat bereid is om te waag in Afrikaans, ʼn groot pluimpie moet kry, want sonder hulle sal ons dit nie kan sien of beleef nie!
Hoogtepunte was daar baie, maar vir my persoonlik het Markus 16 van Andries Vrey uitgestaan. Na die negatiewe beriggewing waar sekere tannies die stuk as godslasterlik uitgemaak het en na vyf minute uitgestorm het, was daar seer sekerlik mense gewees wat die produksie vermy het en uitgemis het op 'n briljante stuk! James Borthwick lewer 'n kragtoer as Markus Malan, ʼn straatevangelis met wie die lewe 'n klomp draaie gestap het! Jy stap uit die stuk met 'n klomp gedagtes wat lank na die tyd nog by jou bly! Dit is tog wat teater moet doen, soos 'n gedig, ʼn mens los met gedagtes en jou eie interpretasie wat dalk betrekking het op jou eie lewe of omstandighede soms!
Terug na die tannies wat uitgestorm het. Hulle laat my dink aan die bekendes wat hier op LitNet en in koerante steen en been gekla het oor die Opperman-stuk, Ons vir Jou, sonder dat hulle dit self gesien het om 'n behoorlike uitspraak te kon lewer daaroor! Wat ek eintlik probeer sê is dat mens soms dinge in perspektief moet sien. As die tannies vyf minute langer gebly het, sou hulle dalk tot ander insigte gekom het en besef het wat die konteks was en dat dit definitief in daardie gegewe nie godslasterlik was nie!
Die blou uur was ook iets besonders gewees en het uiteindelik met die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys weggestap! Antoinette Kellermann word net elke keer vir my beter en haar spel in Blou uur en in 'n Lang dagreis na die nag was iets besonders gewees! Marius Weyers stel ook nooit teleur nie en dis great om nuwe jong opkomende akteurs te sien skitter, mense soos Eben Genis, Gustav Gerdener en Stian Bam gaan dit nog ver vat!
Iets wat my irriteer van sommige teatergangers is dat hulle nie bereid is om bietjie te waag en te dink oor stukke nie. Soos televisie wil hulle net daar sit en vermaak word en dan uitstap en dit vergeet. Dié dat die komedies seker so goed verkoop. Laat my dink aan die een familie in 'n taxi wat twee baie opgewonde vrouens helemal afgesit het oor die Nataniel-geskryfde stuk Boom! Hardop het hulle verklaar dat dit die grootste klomp snert en gemors is wat hulle nog gesien het en dat hulle die kaartjies liefs moet weggee! Ja, dit was 'n swaar stuk, en ja, Nataniel het nie daarin gespeel nie, maar dis weereens een van daai stukke waarin jy jou verlekker oor die dekor en dit wat uitgebeeld word!
Dalk moet daar 'n kort opsomming oor swaar stukke buite die sale aangebring word. Amper soos by die Cinema Nouveau-teaters sodat jy net die draad kan optel waaroor die stuk gaan. Dit sou vir seker gehelp het in 'n stuk soos Smag, wat rêrig donker en baie swaar was en waar jy moet kophou soos min om te probeer volg wat aangaan. Definitief vir die fynproewer, want dit was effens oor my kop gewees.
So die balans was goed tussen komedie en die meer ernstige stukke en ek kan nie wag tot die volgende fees nie!
Ek wens net dat meer mense wil waag ek begin teater kyk, want dit is ʼn ryk en wonderlike ervaring.
Lank leef Afrikaanse teater en al die mense wat daarin werk!
Woema Man


