Bokomo-brekfisbrief; 07/08/08: Regte Redes Om Nooit Te Trou Nie

  • 0

Ek het FW se brief getiteld 'Hoekom ek nooit sal trou nie' nogal geniet. Daar is egter een punt waar ek voel ek wil van hom verskil en dit is waar hy beweer dat mens onmiddellik in jou m%^& in is as jy trou. Ja, die aftakelingsproses begin inderdaad met die troue, maar ongelukkig is jou totale ondergang 'n lang proses wat in verskeie fases oor 'n lang tyd plaasvind.

Vir 'n man bestaan die eerste tien jaar van 'n huwelik merendeels uit ontnugtering, wat so vroeg as die huweliksnag kan begin.

Voorbeelde van standaard-ontnugterings gedurende die eerste tien jaar van die huwelik is as volg:

1. Die feit dat jy elke aand saam met haar in dieselfde bed slaap beteken nie jy is verseker van baie patla-patla nie. (Dis juis as gevolg van hierdie ontdekking dat die bruidegom se skaapagtige glimlag weg is wanneer hy van wittebrood af terugkeer.)

2. Vrouens poep ook en soms nog stinker as mans. Die enigste verskil is dat hulle jou nie waarsku as hulle een laat gaan nie.

3. Sy aanvaar jou nie soos jy is nie, maar hoe jy kan wees sonder jou slegte gewoontes.

4. Die woord 'neul' is deur 'n getroude man uitgedink en hy was nie besonder onverdraagsaam of oorsensitief nie, maar 'n gewone ou soos jy.

5. Jou vrou dra toe al die tyd haar grimering en mooi klere vir ander mense. Dieselfde beginsel geld vir kos, wat beteken dat as jy behoorlik wil eet, moet jy iemand oornooi.

6. Sy kán net so groot soos haar ma word en daar is nie so iets soos ʼn uitsondering op die dik hakskeen-reël nie. (Al is haar pa se familie almal riemdun.)

7. Die platlê-skoffel word uitsluitlik gereserveer vir 'straf & beloning'. Jy kan dus nie 'n getroude vrou verlei (as jy met haar getroud is) nie, want niks wat jy sê, doen of aanspuit gaan enige impak maak as sy klaar besluit het 'dit' gaan nie gebeur nie. Om een of ander rede werk dit egter nie na albei kante toe nie en as jy dronk word by die braai, sal sy wel van haar oorspronklike plan vir die aand afwyk en jou niks gee nie.

8. Jou skoonma is nie anders as jou pelle s'n of sommer net 'n 'lekker tannie' nie. Sy is uit die bose, nes die res.

9. Die kind wat julle saam verwek gaan waarskynlik nie die teenmiddel vir Aids ontwikkel of Tiger Woods se gat skop met gholf nie. Dít kom jy gewoonlik agter wanneer hy vyftiende plek behaal in sy eerste 20m-resies by die kleuterskool. (Hoe raak mens so ver agter binne so ʼn kort afstand?)

10. Vrouens kan telepaties kommunikeer, want as jy aan sekere dele van haar anatomie raak, maak sy die kinders wakker sonder om 'n geluid te uiter. (En hoe later in die nag, hoe vinniger kom die klop aan die slaapkamerdeur.)

En so kan mens aangaan.

Die tweede fase behels berou, verwyt en selfondersoek. Dit kan nog ʼn verdere tien jaar duur waartydens jy wonder waar jy verkeerd gegaan het en waarom jy so gestraf moet word. Dit eindig uiteindelik wanneer jy besef dat jou eie gedrag niks met jou situasie te doen het nie en dat, ongeag van watter ander paadjie jy moontlik kon geloop het, jy in elk geval sou eindig by die punt waar jy nou is. Hierdie is die aanvang van die berusting-fase en nou is daar twee opsies vir jou beskikbaar.

Hierdie opsies is as volg:

1. Bly stil, vermy moeilikheid en kry 'n stokperdjie. Niemand leef vir ewig nie en op die ou einde sal daar verlossing kom.

of

2. Ruil die ou dierasie in vir 'n jonger model.

Die inruil-opsie is op die oog af die meer aantreklike een van die twee, maar ongelukkig is dit soos om jou stokou Mercedes te verruil vir 'n splinternuwe Ford. Die bakwerk lyk mooier, maar as jy die 'bonnet' oopmaak, vind jy dat die enjin tien keer meer gehawend is as die een wat jy so pas eenkant toe gegooi het. En as dit gebeur, val jy maar terug na Opsie 1 en wag weer vir die dood om in te tree.

Oom Daan

NS – Ag, ek maak net 'n grappie, my skat! Skat? Skat …?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top